{ARGIEF}

Die Evangelie van Jesus Christus hanteer dikwels oënskynlike teenstrydighede, of te wel paradokse.  Na hierdie kernbeginsel het ons reeds voorheen verwys. In `n wêreld van groeiende kompleksiteit is dit `n kosbare geskenk. In `n land soos Suid-Afrika, kan ons nie daarsonder nie. Nie almal verstaan dit nie, maar ek voel al meer dat `n begrip vir kompleksiteit jou help om jou Suid-Afrikaanse paspoort met waardigheid te dra.
Verlede week het ek die voorreg gehad om Dr. Joel Hunter, een van president Barack Obama se persoonlike raadgewers, te ontmoet. Hunter is in eie woorde `n uitgesproke Evangeliese Christen (“Evangelical”) wat die sluitingseremonie by die Demokrate se nasionale konvensie in 2008 gelei het. Wie Amerika goed ken, sal weet dat dit opsigself al vir sommige `n paradoks verteenwoordig. Enkele opmerkings uit die oggend se gesprek bly my by. Die eerste is dat dit wil voorkom of al meer en meer Evangeliese kerke, of te wel kerke uit die sogenaamde “evangelical movement”,  publieke teologie begin bedryf. Kortliks kom dit daarop neer dat kerke wat eens bekend was dat hulle min met die sosiale- en geregtigheidskwessies van die dag te doen wou hê, nou aktief daarby betrokke is. `n  Onlangse artikel in Time Magazine oor Bill Hybels, die Willow Creek Community Church en hul onvermoeide ywer om rassegrense te deurbreek, is hiervan `n sprekende voorbeeld.
`n Ander groot kwessie in die VSA is die sogenaamde “pro-lewe” of te wel die aborsie-kwessie. Dit is presies hier waar daar ook `n nuwe denke begin groei het wat op `n fassinerende manier wys hoe die Evangelie `n antwoord kan gee wat polarisering wil ontlont.
Vir lank was hierdie `n onverkwiklike vir-en-teen-gesprek tussen Christene. Tans vind ons egter al meer kerke wat sê: Ons verstaan die kompleksiteit van die kwessie. Ons wil lewe in alle vorme as heilige geskenk van God respekteer. Ons wil ook nie meer stry nie. Bring daarom die baba’s asseblief vir ons. Ons sal vir hulle sorg en in liefde grootmaak. Dit is nie `n antwoord sonder sy eie kompleksiteite nie, maar `n antwoord wat `n prys van jou vra en my in die hart gryp. Dit wys die gesig van Christus op besonderse wyse.
Daar is veel meer kwessies vandag waaroor Christene stry, sonder om na jare se stryd by `n finale antwoord te kom. Dalk is dit omdat ons almal soms goedkoop en maklike  antwoorde op ingewikkelde vraagstukke soek. 
Oor `n week of wat vier ons Paasfees. Van die kleinste kerkies in die Transkei tot in die katedrale van Rome sal miljoene Christene die bekende sinnetjie uitroep: Jesus Christus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan! Ja, sommige sal steeds stry oor die aard van Sy opstanding, so al of ons met ons klein verstandjies en verstaanshorisonne presies kan ontrafel hoe hierdie ondeurgrondelike, groot gebeure plaasgevind het. Tog sal die meeste Christene heel eenvoudig nie die hoe van Christus se kruisiging en opstanding vier nie, maar wel die dat daarvan. Vir baie sal dit `n groter fees as Kersfees wees, omdat dit die hart, die kernboodskap van die Evangelie vier. Jy sien, dit is inderdaad `n kruis-boodskap. Wie fyn na die simbool van die kruis kyk, sal ook `n plus of selfs `n brug daarin sien. Dit wil nie verdeel nie. Dit wil bymekaar bring. Dit dra `n radikale versoeningsboodskap, juis in `n wêreld van kompleksiteit.