{ARGIEF}

Die vraag word dikwels gevra of alle gelowe nie maar op `n manier gelyk is nie. Is alle gelowe nie maar gelykwaardige uitdrukkingsvorme van die mens se behoefte om te aanbid nie. In `n globale wêreld waar mense van verskillende agtergronde geforseer word om nader aan mekaar te leef, saam te leef en in vrede en respek vir mekaar te leef word hierdie vraag al dringender gevra. Kom ons waag `n eenvoudige standpunt.
1. In alle gelowe oor die wêreld sal jy bepaalde waardes, wyshede en noem dit as jy wil lewensreëls kry wat jou gedrag behoort te bepaal. Hierdie gedragskodes, lewens-en wêreldbeskouinge of filosofieë is daarop gemik om vanuit `n bepaalde godsdienstige oortuiging, menslike optrede te probeer orden in die hoop dat die wêreld `n beter plek sal word. Elke geloof het dus `n korpus of versameling wyshede wat die mens moet help om beter te lewe. In hierdie opsig verskil die Jode, Christene en Moslems niks van mekaar nie.
2. Die uniekheid van die Christelike geloof lê egter daarin dat daar `n beslissende leerstelling in die Christelike tradisie is wat sê dat die mens nie alleen in staat is om dit reg te kry nie. Die mens kan wel strewe om hierdie wonderlike wyshede na te jaag, maar sal altyd in een of ander vorm kort skiet. 
3. In hierdie opsig staan die Christendom byvoorbeeld direk teenoor die humanisme wat glo dat die mens in homself die moontlikheid het om die goeie te verwesenlik. Jy sal ook binne die humanisme maklik die stelling aantref wat sê dat daar nie eintlik iets soos sonde is nie, wat nog te sê, erfsonde.
4. Dit is my oortuiging dat feitlik elke nuusberig wat vandag die wêreld ingaan getuig dat die mens wel in sy wese sondig en gebroke is en oneindig tekort skiet in sy strewe na selfverwesenliking en die daarstel van `n eie utopia.
5. Die uniekheid van die Christelike geloof lê daarin dat dit onomwonde erken dat die mens `n Verlosser en Middelaar nodig het om ons met God te versoen.
6. Soos so baie ander gelowe glo ons ook dat daar net een God is, en dat alle mense deur Hom geskape is. Ja daarom is die Moslems en Buddiste in daardie sin inderdaad my broer en suster. Ek eer en erken ook van die diep waarhede en lewensfilosofieë wat vanuit ander tradisies na ons toe kom.
7. Ons sien dit elke dag en glo egter vas dat ons nie alleen hierdie ideale kan bereik nie.
8. As Christene glo ons ook in besondere krag van die Heilige Gees, ja die Gees van God en die Gees van Christus wat met ons is, ons elke dag wil bystaan om hierdie God-geopenbaarde wyshede en waarhede wat jy regoor die wêreld vind, in ons eie lewe waar te maak. So alleen, glo ons,  kan ons tog daarin slaag om die wêreld `n beter plek te maak.
9. Binne hierdie raamwerk van denke is dit daarom ook verstaanbaar waarom konsepte soos, genade, vergifnis en versoening so `n uiters prominente rol binne die Christelike Evangelie speel.
10. Christene is daarom nie beter as ander mense nie. Hulle verstaan en bely egter hoe verskriklik nodig die mensdom `n Verlosser nodig het. Hierdie Verlosser noem ons Jesus Christus en glo dat Hy die gekruisigde en opgestane Seun van God is.