{ARGIEF}

Reaksie op Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu se versoek om “welvaartsbelasting”
Graag reageer ek soos volg op onlangse persberigte in die verband.
Soos in die geval van biskop Tutu se uitspraak, is dit uiters belangrik dat ook hierdie opmerkings in konteks en as geheel gelees moet word :
1. Dit is met groot begrip dat kennis geneem word van Biskop Tutu se uitsprake. Hy was immers nog altyd iemand wat as brugbouer opgetree het en in baie opsigte `n konsekwente profeet in die verband is.
2. Ek oordeel dat (`n verdere) welvaartsbelasting nou met baie negatiewe reaksie begroet gaan word. Die reaksie van die VF+ het dit reeds bevestig. Mense voel dat hulle reeds oorbelas is en dat die belastinggeld nie korrek aangewend word nie en in baie opsigte vermors word.
3. Terselfdertyd kan ons nie aan `n gesprek oor restitusie ontkom nie. Die kerk mag ook nie daarvan terugdeins nie en moet in ‘n sekere sin op die voorpunt daarvan staan.
4. In die gesprek word daar dikwels na “skuld” verwys. Indien `n party of enige groep mense in `n beskuldigde bank geplaas word, maar nie `n konkrete geleentheid gegee word om uit hierdie “skuld” te kom nie, werk dit verlammend en selfs manupilerend.
5. Ek meen dat aartbiskop Tutu se opmerkings in die verband gesien moet word, naanlik dat hy `n weg vorentoe wil aanwys en daarom stel ek graag die volgende voor.
1. Dat `n Restitusie Trust begin word waartoe mense vrywilliglik kan bydra. Uiteraard sal die trust onderworpe wees aan behoorlike deursigte ouditering en verteenwoordigende bestuur. Ek is ook oortuig daarvan dat die kerk hier `n ondersteunende rol kan speel.
2. Ek verstaan dat hierdie bydraes, nie (soos in die geval van bv. skenkings aan Universiteite), van belasting aftrekbaar sal wees nie, maar dink dit sal die saak dien as SAID/SARS wel d.m.v. `n sertifikaat erkenning aan hierdie skenkings gee.
3. Hierdie trust sal dan aangewend word om bestaande pogings en projekte, wat gemik is op die uitwissing van agterstande, te ondersteun. Met kundige kapasiteit wat daar binne die kerk is, kan nuwe projekte ook geloods word wat herstellende geregtigheid in die hand kan werk.
4. Uiteraand sal hierdie projekte geloods word in samewerking en na behoorlike konsultasie met agtergeblewe gemeenskappe.
5. Ek sien uit daarna om hierdie voorstel, verder met relevante rolspelers en indien moontlik ook met biskop Tutu self te bespreek.