{ARGIEF}

Dit was dag twee van die Lausanne konferensie! Die tema vir die dag was WAARHEID. Die proklamering van Christus as die weg en en waarheid en die lewe in `n pluralistiese geglobaliseerde wêreld. Dis nogal `n mond vol. Daar is eerlik gekyk na uitdagings en kompleksiteite en tog is dit net lekker om deel van hierdie reuse skare gelowiges van regoor die wêreld te wees wat die verlossingsboodskap van Jesus Christus so onverdund en eerlik aanvaar.
Die Bybelstudie was uit Efesiërs 1 en die aanbieder vertel toe oa die eenvoudige storie. `n Evangelis vra op `n keer aan `n seuntjie of hy al vir Jesus gevind het. Die antwoord toe: “Ek het nie geweet Jesus is weg nie. Wat ek wel weet is dat ek verlore was en dat Hy my gevind het!”
Daar is verder ernstig gepraat oor sommige Christene se lewenstyl wat `n bespotting maak van die “Waarheid”
Daar is gepraat oor hoe ontsaglik belangrik hierdie gesprek oor die waarheid geword het in `n wêreld waar al meer en meer stemme opgaan dat daar nie iets soos die waarheid is nie, maar net iets soos persoonlike mening… Hoe dra `n mens `n hele oggend se gesprekke oor hierdie fassinerende onderwerp korrek oor?…
Vanmiddag `n gesprek oor die Evangelie, die media moderne tegnologie en kommunikasie bygewoon. (Daar was `n hele paar temas om van te kies.)
Vanaand het op China gefokus. Van die Chinese afvaardiging se visums is deur hul regering geweier en hul stoele was leeg. Ook na die wrede werklikheid van diskriminasie en ongelykheid in Indië gekyk (kastestelsel). Ook Pakistan en vele ander lande was onder vergrootglas, die groeie van die christendom regoor Asië, maar ook die vervolging van christene wêreldwyd vandag.
My kop draai… maar ek is opnuut so dankbaar vir die ongelooflike voorreg om kind van God deur Jesus Christus te wees!