{ARGIEF}

Ek sit op die vliegtuig terug van Malawi en dink na oor my belewenisse van die laaste paar dae. Dit het my diep laat dink. Nie net oor Malawi nie, maar ook oor SA en Afrika.
Ek was in Malawi om die Nkhoma sinode van die CCAP (Church of Central Africa Presbyterian) by te woon. Die kerk is in 1888 deur een van die bekende Murray-broers te Mvera gestig. Die NGK in die Kaap is al meer as 100 jaar daar betrokke. Maar ek dink diep.
Die CCAP Nkhoma het al meer as 1,2 milj lidmate. Tog is dit `n eg tradisionele Afrika kerk. Dit het ver-inheems en tog dra dit al die tekens (sommige nie so goed vir Afrika nie) van `n ou tradisie. Pakke en togas… en het ons gesweet!
Maar ek is diep bekommerd oor Malawi.
Die land is in ‘n leierskapskrisis. Buitelandse valuta het opgedroog. Die tabakprys het met 60% geval (Hulle het verkeerde variëteit bly plant en nie gou genoeg aangepas by internasionale behoeftes nie). Die president het die Britse hoë kommissaris die land uitgesit en toe vies die Britte hul en stop hul hulp. Buitelandse hulp beslaan meer as 50% van die regering se begroting. En nou is daar nie petrol nie. Ek het in my lewe nog nie sulke lang toue gesien nie. Oral, feitlik by elke vulstasie sal jy toue van tot ’n kilometer sien. Baie van die motors is verlate. Wanneer die gerug die rondte doen dat daar bietjie petrol opgedaag het, haas die eienaars hul soontoe in die hoop dat hulle iets sal kry. Petrol op die swartmark kos tussen R40 en R50 per liter!
Dit impakteer op toerisme. Jy kan ‘n motor by Avis huur, maar hulle kan jou net ‘n kwart tenk petrol gee… en hoe kom jy van die lughawe tot by die meer daarmee? Ek het hard probeer dink oor wat die land kan doen. Die land is oorbevolk en die eens boomryke landskap is besig om in ‘n woestyn te ontaard. Tog is daar ‘n varswater meer 350 km lank en 50 km breed, maar 80% van die land is beset deur klein bestaansboere. Die leierskap ontbreek om orde te skep op so n manier dat daar nie `n nuwe geslag werklose, grondlose, hooplose, daklose Malawiërs geskep word nie.
En wat sê dit vir SA? Hou vas aan ‘n goeie konserwatiewe monitêre beleid! Moenie reserwes op twak blaas nie. Die president in Malawi het blykbaar nou die dag vir hom’ n peperduur vliegtuig aangeskaf.
SA moet begin om op die beskikbare staatsgrond, wat ook verder aangekoop kan word, stukkie vir stukkie kleinboere te vestig wat deel kan word van ‘n groter koöperatiewe sisteem. LW nie bestaansboere nie. Hulle is gedoem tot armoede. `n Kleinboer is iets anders. Die kapasiteit bestaan nie op die oomblik om nou dadelik ‘n groot getal nuwe groot kommersiële boere te vestig nie. En voedselsekuriteit is onverhandelbaar belangrik.
`n Laaste gedagte. Mag die SA regering sy arrogansie stop en baie baie meer noukeurig en sensitief omgaan met bestaande vaardighede en kapasiteit wat die land om welke rede ookal verlaat.. Toe ek oor die naweek aan iemand wat al bykans 30 jaar in Malawi woon vra wat die land se grootste nood is, het hy onomwonde geantwoord: leierskap en bestuurskapasiteit!
My gedagtes gaan terug na Sondagoggend se diens onder die bome vir die sinodegangers. Die meer as 200 predikante het opgedaag met motors, bakkies, fietse en busse. Hul slaap op matrasse op die grond. Hulle praat ernstig oor Christus en die kerk. Hulle worstel ook oor landspolitiek en die toekoms en ek wonder… Ja, die wiel sal draai, maar die een gaan dalk soos ons so dikwels in die Bybel lees, ’n paar jaar neem, dalk `n geslag of meer…