{ARGIEF}

Vanoggend het ek `n begrafnis bygewoon en skielik gewonder hoekom ons eers wil wag tot ons dood is voordat ons regtig regtig intiem met God saamleef. Kan ons dit nie maar meer en meer beleef terwyl ons leef nie? Ek dink dit is moontlik. Ek dink God wil dit ook hê. Ons verstaan dit net nie lekker nie en laat toe dat daar te veel dinge is wat ons aandag vra en hierdie voorreg van ons wegneem.
Vanmiddag was ek saam met `n klompie kerkleiers in Khayelitsha om net weer `n slag te gaan kyk hoe mense sonder behoorlike sanitasie en water leef. Dis koud en nat en vuil. Oral hardloop daar klein kindertjies rond en ek wonder watter verwysingsraamwerk hulle vir die lewe kry. Die berge rommel wat oral rondlê laat `n mens mislik voel. Ek dink oor my eie lekker warm huis… en oor hoe min ek regtig oor hierdie werklikhede dink. Toe dink ek verder. Ek weet God wil hê ek moet intiem met Hom saamleef. Heel konkreet wil Hy dalk hê dat ek net so bietjie meer van my tyd, aandag en energie gee aan hierdie konteks, want dit is sekerlik waar sy sorgsame Vaderhart ook is.