{ARGIEF}

Die grooste revolusie van die laaste dekades was sekerlik die “stil” revolusie wat die individu bemagtig het …
Masjiene te kompleks om te verstaan
Netwerke te kompleks om te bestuur
Organisasies te veeleisend om te bestuur
Kliënte te veeleisend om te bevredig… dit is die nuwe tyd waarin ons leef.
(Wolfgang Grulke)
Soms wonder ek of daar na al die duisende boeke wat geskryf is nog iets nuuts oor leierskap geskryf kan word. Ek dink die antwoord is waarskynlik dat daar min nuuts verskyn. Wat wel waar is, is dat elke tyd en omstandigheid waarskynlik om `n eiesoortige styl van leierskap vra. Die vraag is dus nie of daar iets nuuts uitgedink moet word nie, maar welke van die ou beginsels nou van toepassing is. Mag ek waag om `n paar kantlynaantekeninge te maak ten opsigte van die tyd waarin ons nou leef?
• Die eerste is dat die kerk haar bevoorregte gesagsposisie in die samelewing verloor het. Terwyl die kerk erken word as `n groot institusie, is dit lank nie meer dié belangrikste institusie nie. Die rol wat die kerk dus gaan speel gaan nie afhang van haar “posisionele” posisie nie, maar die plek wat sy in eie reg “verdien”. Die vaardighede wat leiers aanbied, die sin wat hul woorde maak, die integriteit waarmee opgetree word, die netwerke wat gebou word en bo alles, die verhoudinge wat gebou word, gaan die verskil maak. As daar ooit `n tyd was wat die “span-beginsel” omarm moet word, dan is dit nou.
• Die tweede is dat die kerk onteenseglik in `n tyd van verhoogde kompleksiteit en diversiteit leef. Dit bring leierskap voor `n eiesoortige paradoksale uitdaging. Aan die een kant moet daar `n helder innerlike kompas in leiers wees. Hulle behoort baie duidelik te weet wat die kern van hul oortuiginge is en veral watter waardes hulle optrede rig. Terselfdertyd sal rigiede reg of weg antwoorde nie meer werk nie. Calvyn se gesprek oor die adiophora (die wesenlike en die nie-wesenlike) het na al die eeue weer ontsaglik relevant geraak. Leiers sal moet ferm en vloeibaar wees. Die vraag is wanneer om wat te wees?
• Dit bring my by die derde beginsel. Soos selde voorheen word leierskap geroep om met wysheid en mag ek dit noem, Goddelike (bo-natuurlike) wysheid te funksioneer. Dit bly `n gawe en `n geskenk. Dit is iets wat jy vind wanneer jy fyn lees en luister, maar veral wanneer jy uit jou studeerkamer kom en kyk en luister na wat werklik om jou in die wêreld aan die gebeur is. Na alles is dit n geskenk wat groei wanneer jy intieme omgang met die Skrif en God self het. Hy bly na alles die bron van alle wysheid.
• `n Vierde beginsel. In `n diverse en onseker tyd sal verhoogde konflik gedurig lê en loer. Hieroor net een beginsel. Moet dit nie probeer weg wens of vermy nie. Konfronteer die konflik! Gaan daarna toe en praat dit padlangs en in liefde uit. Moenie die persoon konfronteer nie, maar konfronteer die saak!
• `n Laaste heel praktiese saak. In `n tyd soos hierdie sal bronne waarskynlik al skaarser word, terwyl die uitdagings al groter word. In `n ou tyd sou leierskap net meer kapasiteit gesoek het as die uitdaging groter word. Meer mense sou aangestel word. Dit kan nie meer nie. Nuwe modelle sal gevind moet word. Ek is nie seker of ons dit al goed genoeg verstaan nie. Dit raak ons opleiding, ons kerkreg, ons gemeentelike modelle, ons bestuurskonsepte en veel meer. In `n tyd soos hierdie soek ons leierskap wat dit verstaan en soos goeie entrepreneurs `n weg vind. Deel van die “nuwe” model mag ` terugkeer wees na die “ou” tyd. Hierin mag die kerkgeskiedenis ons help. Maar dit is net `n deel van die antwoord. Ek wag met opwinding om te sien waarmee God vir sy opreg-soekende en luisterende kinders mee vorendag gaan kom.