{ARGIEF}

Vanoggend se koerant het ons met teenstrydige opskrifte begroet. Aan die een kant was daar die vreugde en euforie van die wêreldbeker eindstryd wat wag. SA het haar arms vir die wêreld oopgemaak en alle aanduidings is dat dit `n reuse sukses was. Die stories wat na ons toe kom is oorweldigend en maak jou trots en dankbaar om in SA te woon. `n kollega vertel dat `n taxibestuurder nou die dag by `n stopstraat oorleun na hulle kant en vir sy vrou sê: “Ai mevrou, dit is so lekker om so met mekaar te kan praat. Kan dit nie maar na die world cup so aangaan nie?” Daar is veel meer sulke ervarings om te deel.
Terselfdertyd is daar die hardnekkige gerugte dat xenofobiese haat gaan losbars net na FIFA vetrek het. “Ons is moeg vir die skurke en dwelmsmokkelaars en mense wat ons werk vat”, word gesê. Terselfdertyd sien jy die vroue en kinders wat weerloos gelaat word te midde van soveel agendas en menslike oordele dat jy nie meer weet watter kant toe nie
As alles klaar gesê is kom daar `n paar gedagtes by my op. Ek dink aan Christus se oproep om die vreemdelinge in ons midde te verwelkom. Mag ons almal ook na die sokker, met `n gees van welwillendheid, liefde, aanvaarding en begrip na alle vreemdelinge kyk. Mag ons aan ander doen soos ons graag aan onsself gedoen wil hê. Mag die skurke uitgewys en aan die kaak gestel word, veral hulle wat hierdie broos situasie vir eie gewin wil uitbuit. Mag God ons steeds groter liefde en fyn onderskeidingsvermoë (aanvoeling) in hierdie dae gee. Gaan lees gerus weer Fil 1: 9,10. Mag Paulus se droom en gebed vir die Filippense ook vir ons in die dae waar word.