{ARGIEF}

Vandag, op hierdie heerlike sonnige helder wintersdag in die Kaap, sommer iets eenvoudigs oor gebed. Baie, baie boeke is al oor gebed en die verskillende kante en dimensies van gebed geskryf, maar in my stiltetyd vanoggend het veral vyf dinge weer vir my duidelik geword.
Die eerste. Gebed, ware gebed is altyd `n ontmoeting met God. Dit is veel meer as woorde en `n gepaste manier van doen. Dit is daardie een heilige oomblik waar jy besef dat jy waarlik deur die genadige werking van die Heilige Gees, God regtig ontmoet en waarlik bewustelike kontak met Hom het.
Tweendes. Gebed is altyd `n vorm van oorgawe. Dit is `n oomblik waar jy jouself weer oorgee aan die wil van God. Dit is `n ruimte waar jy jou verlange na absolute gehoorsaamheid aan God bekend maak en vra dat Hy jou daarmee sal help.
Derdens. Daarom is gebed veel meer as praat. Dit is ook `n ruimte waar jy fyn luister, tot jy God hoor praat! Dit is `n stil ruimte waar dinge vir jou duidelik word, jy opdragte ontvang en nuwe rigting vir jou lewe ontdek.
Vierdens. Dit is `n ruimte waar jy vra, maar veral dinge vir ander mense vra. Dit is `n plek waar jy intree en vir `n oomblik van jouself af wegkyk. Dit beteken nie dat jy nie jou eie seer en verlange voor God mag bring nie, maar partykeer word jou eie laste net soveel ligter wanneer jy getrou die laste van ander mense voor God bring.
Vyfdens. Gebed is `n eenvoudige manier om dankie te sê. Dit is `n manier om dankie te sê vir klein en groot dinge. Dit is `n manier om God se goedheid in herrinnering te roep en te onthou… en dit bring `n eie vrede en vreugde. Dit maak die hart warm.