{ARGIEF}

Vandag sommer net `n paar gedagtes uit my en Mariette se nuwe boek: Ontdek jouself voor God – beskikbaar by CUM
I’ve grown certain that the root of all fear is that we’ve been forced to deny who we are. – Francis Moore Lappe
Daar is `n grootsheid in die mens wat wys dat ons beeld van God is; daar is ook `n kleinlikheid in ons, wat bewys dat ons maar net die beeld van God is. – Blaise Pascal
Van die heel grootste gebeurtenisse van jou lewe, is daardie gebeure wat jou help verstaan wie jy regtig is. Dalk is van die grootste krisisse van ons dag die feit dat so baie mense nie regtig `n idéé het wie hulle is nie. Daarsonder is `n vol, vervulde en betekenisvolle lewe moeilik moontlik.
`n Tyd gelede is daar `n uitstekende advertensie op TV vertoon. Dit wys hoe `n gefrustreerde en ietwat onbeskofte sakeman sy arrogansie teenoor `n dame by `n inweegtoonbank op `n lughawe wys. As hy nie dadelik die aandag en diens kry wat hy meen hy op geregtig is nie, vra hy aan haar: “Dame, weet jy wie ek is?” Sy hanteer dit met `n glimlag. Sy neem die mikrofoon en kondig die volgende oor die luidsprekers aan: “Dames en Here, hier by my toonbank is daar iemand wat nie weet wie hy is nie. Kan iemand hom asseblief kom help?!”
Ek dink ons sou baie lesse uit die enkele situasie kon neem, maar dit het veral een by my wakker gemaak. Ek is nie seker of dit die bedoeling van die vervaardigers was nie, maar die amusante advertensie het my aan die volgende laat dink: Daar is sekerlik baie meer mense op die planeet wat nie meer weet wie hulle is nie… en hulle gedrag wys dit!
Dit is my diepe oortuiging dat `n groot deel van die pyn en gebrokenheid wat die wêreld tans ervaar, gevind moet word in die feit dat miljoene mense nie meer weet wie hulle is nie. Jy sien dan ook dat mense op krampagtige wyse vir hulself `n identiteit probeer skep. Snaakse modes, vreemde gedrag, `n krampagtige kruisiging van my (die) verlede, die skep van nuwe (sub)kulture en die fanatiese ondersteuning van vreemde nuwe groepe, is maar enkele voorbeelde.
Globalisering het natuurlik die hele vraag na identiteit en veral groepsidentiteit sterk na vore gebring. Tot `n paar jaar gelede is die sogenaamde Amerikanisering van die wêreld as `n groot bedreiging deur sommige gesien. Die astronomiese ekonomiese opkoms van China het die gesprek so `n bietjie getemper. In hierdie boek wil ons egter die vraag vanuit `n ander hoek beskou. Natuurlik is dit so dat jou verhouding tot die groep aan wie jy behoort, jou persoonlike identiteit dramaties gaan bepaal. Later gaan ons ook iets meer hieroor sê. Dit is nie onbelangrik nie. Tog meen ons dat dit nooit die laaste sê behoort te hê nie.
Belangriker as die vraag wat jou verhouding tot `n bepaalde groep is, sou die vraag wees, wat jou werklike verhouding is tot die Een wat jou gemaak het. Dit is `n vraag met baie kante. Hierdie boek wil onder andere wys hoe die vraag jou alledaagse menswees baie meer konkreet bepaal as wat jy ooit sou kon besef. Te veel mense verstaan dit nie en ruil die vrae gemaklik om.
Daar is `n verhaal in die Bybel wat die punt treffend illustreer. Dit is die verhaal van Jona. Jona word deur God geroep om `n boodskap van verlossing aan die mense van Ninevé te bring. Jona spring egter op `n skip na Tarsis, “weg van die Here af!” (Jona 1:3 ) `n Reuse storm breek uit;die skip is op die punt om te vergaan. Die bemanning maak vir Jona wakker wat onder in die skip lê en slaap terwyl die storm woed (watter lekker beeld vir `n preek) en konfronteer hom dan met drie vrae. Ons sou dit identiteitsvrae kon noem: 1. Watter werk doen jy? 2. Waarvandaan kom jy? 3 Uit watter land en volk kom jy? Miskien lees ons te veel in Jona se antwoord. Maar dit is opvallend dat hy die volgorde in sy antwoord omruil. Hy antwoord eerstens deur te sê dat hy `n Hebreër is en tweedens dat Hy die Here dien (Jona 1:9). Dalk doen ons dit almal. Dalk is die groep waaraan jy behoort steeds vir jou `n belangriker en kragtiger vormer van jou identiteit as jou roeping en opdrag wat jy van God ontvang het. Dit laat die wêreld baie deurmekaar …