{ARGIEF}

Sondagmiddag is lekker stil dinktyd, al is jy aan die preekmaak…
Vanaand preek ek (weer!) oor Gen 17:1. Leef naby my en wees opreg ( Walk before me and be blameless –NIV) Dit is `n aangrypende stuk verbondsgeskiedenis. Ek weet mense verskil daaroor, maar ek verstaan opnuut hoekom diegene wat aan die kinderdoop vashou en dit sien as `n teken van God se genadeverbond – ja God se inisiatief!, so intens daaraan vashou. Maar die stuk verbondsgeskiedenis het my ook weer laat besef dat ons `n verantwoordelikheid het. As ons sê dat die kinderdoop ook in die Ou Testamentiese verbond sy wortels vind, vra dit `n besliste reaksie en handeling van ons. Soos in die geval van Abraham weet ons nou dat die verbond besliste gehoorsaamheid vra. En dit is dalk waar die fout ingekom het. Ons het dit goedkoop gemaak. Ons het ons deel van die verbond nie nagekom nie. Te veel gedooptes leef NIE naby God nie en is alles behalwe “opreg”, om van “sonder blaam”  nie eers te praat nie. Jy sien, soms dink ek dat die reaksie op die kinderdoop dalk ten diepste n reaksie is op so `n goedkoop maak van die verbond.
Daar is mense wat sê dat die woordjie opreg, wat ook met die Englese “sincere” vertaal word, se etimologie teruggevoer kan word na die Latyn se “sine” – “sonder” – “cera” – “was”. Volgens ou oorlewering het sommige beelhouers hul foute met was probeer toesmeer. In die warm son het dit dan gesmelt en is die foute blootgelê. Op `n vreemde manier gebeur dit vandag nog…