{ARGIEF}

Die laaste paar dae het ek konstant met `n knop op die maag en `n gevoel van onrustigheid geloop. Dit het begin by `n besoek aan Namibië waar ek moes agterkom dat die stakings nou ook daar is en die minister van onderwys moes pleit dat die onderwysers terugkeer skool toe. Toe `n gesprek met boere in die Hantam, toe die nuus van ds Brits se dood (met die kinkel daarna) en tussendeur ook die naweek talle gesprekke met mense uit die gemeenskap van De Doorns en omliggende plaagemeenskappe asook gesprekke met landbou- en vakbondleiers. Tussen hakies. Die aanval op Danie de Wet en sy vrou Lesca (van De Wetshof) het nie eers behoorlik die nuus gehaal nie.
Ek het geen twyfel meer nie. Dieselfde virus loop regdeur, van Marikana tot hier in die suide. Dis kompleks, rou en seer, maar het die teelaarde vir geweld en rewolusie geword. Terselfdertyd skep dit hope geleenthede vir opportuniste. My hart bloei vir die armes en is moedeloos oor die sinlose geweld en die vernietiging van eiendom en bates: 250 000 werkdae se lone @ R100 p/d is vernietig. Wat tans in die mynbou gebeur sal ons nog behoorlik voel. Kyk maar wat met die betalingsbelans en ons skuld tot BBP die laaste maand of twee gebeur het…
Die tweede wat ek glo is dat die morele vesel van ons dierbare land aan flarde lê. Dit begin by ons president en vreet soos `n kanker aan elke lag van die samelwing. Ons het baie genade nodig, anders is wat ons tans beleef maar net die voorspel tot iets veel meer pynlik.