{ARGIEF}

Dit is vroeg Sondagoggend en na `n naweek van slaap is die moegheid bietjie uit my lyf en my kop weer helder. Dus `n goeie tyd om terug te sit en te vra: Wat sal jy eendag onthou van die Algemene Sinode 2011? In kort dalk net dit.
1. Die NGK is lank nie oor die muur nie. Ek het tydens `n teebreek vir my dogter, wat nou 5e jaar teologiese student is, `n Handboek vir die Erediens gekoop en vir haar ge-sms: Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit kan baie lekker wees en daar is beslis groot werk vir jou.
2. Die NGK is nie `n statiese realiteit nie, maar beweeg in die kragveld van die Gees. Ja, soos die ou kerkvaders gesê het, soms een tree terug en dan weer twee vorentoe. Hierdie dinamiese beweging het ek intens ervaar.
3. Die NGK is steeds geseën met enorme diverse kapasiteit. Daar is intellektuele kapasiteit. Dit het die debatte gewys. Daar is bestuurs- en leierskapsvaardighede. Daar is goeie liefdevolle mense wat met deernis leef. Daar is tegniese vaardighede en bo alles ou en jong mense wat ure, ek wil byna sê nagte deur werk.
4. Die NGK wil `n verskil in die land maak, maar besef ons kan dit nie alleen doen nie.
5. Ons is deel van `n baie groot ekumeniese wêreld en hulle wil ons graag in hulle midde hê. Dit het die tientalle groeteboodskappe wat gelewer is, bevestig.
6. Die NGK is helder oor haar gereformeerde belydenis en identiteit, maar leef met `n sagte pastorale en inklusiewe openheid teenoor ander. So is dit bevestig toe iemand wat groot/weer gedoop is, tot die moderamen verkies is.
7. Daar lê baie baie harde werk nou voor. Die eenheidsgesprekke en kerkordelike prosesse rondom Belhar is sensitief en gaan baie ure se tyd van ons vra, maar na alles bly die slotwoorde van die Belydenis van Belhar soos `n refrein in my kop draai: Jesus Christus is die Heer! Dit het ek ervaar…