{ARGIEF}

Twee opmerkings het my vandag diep laat dink. Die eerste was die van die ou tannie wat skuins oorkant ons woon en elke dag die troppie tarentale wat hul in ons buurt kom tuismaak het, voer. Terwyl sy met `n salige gesig haar “kinders” kosgee het ek haar gevra, “Hoe gaan dit tannie?” “Wonderlik goed,” het sy geantwoord en toe bygevoeg: “Hy wat dink dat mens net gelukkig kan wees as die son skyn, het nog nie in die reën gedans nie!”
Die tweede gedagte is losgemaak deur die Christen skrywer Thomas Kelly wat skryf dat daar `n stil innerlike ruimte is waar jy die wêreld en alles wat dit na jou toe bring vir `n oomblik kan wegstoot en God en net God ontmoet. Beteken dat jy hier uit die wêreld ontvlug? Nee. Hier sê jy tegelykertyd Nee en Ja vir die wêreld. Wanneer jy God in hierdie stil ruimte ontmoet het kan jy met die Liefdevolle Vader oor alles praat wat soms so swaar op jou gemoed rus. Dit is in hierdie stil ruimte waar jy perspektief kry en rigting kry, om as dit God behaag, `n klein verskil in `n groot stukkende wêreld daarbuite te gaan maak.