{ARGIEF}

Vandag het ons hier in die gemeente (Stellenberg) `n heerlike buitelug diens gehad waar ons die afsluiting van `n paar weke se nadenke oor die ekologie gevier het. Die oudste lidmaat in die gemeente het gehelp om `n boom te plant, terwyl die kinders saad vir groentetuine uitgedeel het en op verskeie maniere deel was van die program. Vydagaand was ek in Pretoria by `n reuse saamtrek van manne – meer as 3000 waar daar o.a. padlangs met hulle gepraat is oor hulle verantwoordelikhede as pa’s en die verwytende vrae wat dikwels aan “suksesvolle” pa’s gevra word. Toe dink ek. Wat gaan die tipe verwytende vrae wees wat kinders oor dertig of wat jaar aan hulle ouers gaan vra. Ek het `n vermoede dat dit dalk veel meer om die voortbestaan van die aarde gaan draai.
In Beijing sê hulle my is daar maar net 10% kategorie 1 skoon lug dae in `n jaar oor. Die statistiek van oral oor is oorweldigend. Jy sien ons kan die beste ouers denkbaar wees , maar as die skoon lug en water eers op is, is alles op.
Hoe gaan ons die aarde laat rus? Hoe gaan ons ons waardesisteme en leefstyl verander? Ek dink die antwoord is presies dieselfde as die antwoord van Jesus aan sy dissipels na sy opdrag aan die ryk jong man (Matt 19) “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”