{ARGIEF}

Die afgelope tyd het nuusberigte oor die weer en die impak daarvan op die omgewing weer die oog gevang. Die oorstromings in Pakistan en Europa en die brande en hitte in Rusland laat ’n mens dink. Een van die grootste stukke ys ooit het in Groenland afgebreek en in die see beland. ’n Kennis wat al lank in Londen woon, het laat weet dat hulle ’n sproeier vir die tuin en ’n lugreëling vir die huis aangeskaf het. So gaan die lysie aan. Ook die plaaslike nuus in die verband laat ’n mens kopkrap.
In dieselfde asem kom iemand uit die sakewêreld nou die dag moedeloos by my en vra dat ek hom tog moet help om dié nuwe geslag jongmense wat deesdae vir hulle begin werk, te verstaan. Hulle dink anders, kyk anders na die lewe en hul werk en openbaar klaarblyklik min lojaliteit teenoor die instelling waarvoor sy geslag soveel jare so hard gewerk het. My gedagtes het onmiddellik gespring na een van die grootste debatte wat tans in die bestuurswêreld aan die gang is, naamlik hoe ons as ouer geslag (die sogenaamde “Boomers”) effektief saam met ’n nuwe geslag of geslagte (Generasie X en Y) kan werk. Die plek ontbreek om volledig hieroor uit te wy, maar vergun my vir ’n oomblik ’n stukkie veralgemening. Jy sien,’n ouer geslag kon min of meer so dink: Kom ons werk eerlik, lojaal en toegewyd vir baie jare geduldig en eendag kan ons rustig aftree. ’n Jonger geslag vra onwillekeurig die vraag: Wat help dit? Gaan daar ’n “eendag” wees?
Die Bybel praat dikwels oor vandag en môre. “Vandag as julle sy stem hoor…” (Heb.3:7)” Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is…” (Heb. 3:13) “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie” (Jak. 4:14) “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie…” (Matt.6:34) Wie die tekste binne konteks lees, kom gou agter dat hier ’n paar temas herhaal word. Daaronder tel afhanklikheid en vertroue op God. So ook ’n bewussyn van jou eie broosheid en verganklikheid. Tog propageer die Bybel nêrens, nie eers in Prediker, ’n fatalistiese kyk op die lewe nie. Nêrens lees ons van ’n totale hopeloosheid oor môre nie. Ons lees wel oor die moontlikheid om opgewonde te wees oor vandag: “Pluk die dag” (Carpe Diem).
Daar mag jongmense wees, wat met die ingesteldheid leef dat ons soveel as moontlik nou moet leef, omdat môre te onseker is. Natuurlik kry ’n mens dit toenemend ook by ’n ouer geslag. Gelukkig is almal beslis nie so nie. Sommige verstaan wel dat die lewe te kosbaar is om elke “vandag” by jou te laat verbygaan, in die hoop dat daar ’n goeie “môre” sal wees. Dit bring ’n nuwe balans in jou lewe en laat jou anders dink oor baie dinge.
Die Bybel moedig ons aan om “vandag” so met God, mekaar en die skepping om te gaan dat daar juis `n kans op ’n “môre” is. Daarmee kan ons egter nie wag nie. Ons moet vandag daarmee begin.
Vandag is ’n geskenk uit God se hand. En môre? Die tydlose God van alle ewigheid is ook reeds daar en wag ons in. So, kom ons rol die moue op en geniet hierdie dag. Daar is nie ’n manier waarop jy weer gister kan leef of môre reeds vandag kan beleef nie. Al wat het jy het, is hierdie heilige, Godgegewe oomblik. Geniet dit!
braam@kaapkerk.co.za