{ARGIEF}

Ek weet nie hoe baie branderplankryers die rubriek lees nie. Dalk maar min. Tog sal die meeste lesers waarskynlik verstaan as ek sê dat, om op ’n helder sonskyn dag, langs die gladde wand van ’n reuse brander af te gly, waarskynlik van die wonderlikste sensasies is wat enige mens kan ervaar. Dit is verslawend. In my jongdae kon ek ure so op my branderkano deurbring. Ingeligtes sal weet dat die storie min of meer so werk. Jy sal saam met jou vriende stil lê en wag, daar waar jy vermoed die branders breek, jou oë stip op die horison. Die deinings kom meestal in reekse en die geoefende oog weet gewoonlik dadelik wanneer ’n grote op pad is. Gelyktydig sal jy dan ’n paar goed begin doen. Jou sintuie sal data oor die grootte van die deining en die spoed waarteen dit aankom, na jou brein stuur. Dan sal jy begin roei om op die regte tyd op die regte plek te kom. Is jy te ver van die regte plek waar jy die brander moet vang, roei jy jou dood of mis jy selfs die brander. Is jy te ver voor die breekpunt van ’n groot brander word jy gemaal. ’n Goeie branderryer weet dat, om ’n groot brander te ry, jy afgesien van ervaring en oefening, ook die aanvoeling nodig het om die inkomende “data” intuïtiewelik te verwerk. Ek meen hierin lê ’n groot lewensles opgesluit.
Ons ry en mis elke dag branders. Dit gebeur in ons persoonlike lewe, besighede, die politiek en die kerk. Ook dit is dikwels die gevolg van hoe ons met die beskikbare feite omgaan of dalk nie omgaan nie. Tog het ons ook hier iets meer as net die feite nodig, naamlik ’n goeie intuïsie. Ek noem dit sommer reguit, Goddelike aanvoeling, of te wel daardie klein, stil stemmetjie wat op verskillende maniere gehoor word wanneer jy intiem met God saamleef. Ja, dit is moontlik om ’n baie naby en intieme verhouding met die Skepper van die kosmos te hê en toegang te hê tot die wysheid en insig wat van Hom kom.
In die Ou Testament lees ons van ’n Elia wat hierdie stem in die stilte ontdek het. (1 Kon. 19:12) In die Nuwe Testament lees ons dat Jakobus die belofte van wysheid aan diegene voorhou wat daarom vra, wat tot God daarvoor bid. (Jak.1:5) Jare later sou die skrywer Scott Peck dit in sy eie woorde beaam: “The intuitive mind is always one step ahead of the conscious mind.”
Die hele gesprek oor God en wetenskap maak my nogal moeg. Vir my staan die twee nie teenoor mekaar nie. Ek het ’n idee dat daar nogal groot branders gery kan word wanneer ons onsself daarvoor oopstel dat God en wetenskap op besondere wyse kan saamwerk. Belangriker vir my as om te weet hoe oud die aarde nou regtig is, is die vraag wat hierdie Skepper-God vandag nog deur my tot stand wil bring. Hoe kan ek op `n beskeie manier meewerk om van Sy skepping ’n beter plek te maak. Ek het ’n idee dat daar nog ’n paar opwindende branders is om te ry.
Onlangs het die noordewind juis kwaai opgesteek en het ek geweet dat die branders oor ’n dag of wat by Gordonsbaai se Bikini-beach groot gaan wees. Dit is ’n verrassende branderry plek vir diegene wat dink dat daar nooit branders is om te ry nie…
braam@kaapkerk.co.za