{ARGIEF}

Die afgelope twee weke was vir my persoonlik nogal `n interessante tydjie. Na vier dae op die pad om aan lidmate en kollegas ons standpunt oor die Belydenis van Belhar te gaan verduidelik het die skerp briewe, ook in die pers, nie weggebly nie. Voeg hierby die hele polemiek rondom Anton Pienaar se stellings in Rapport, berigte oor die NG Kerk se lidmaatgetalle, Kerkbode se eie stryd om uit die warm water te bly en tien talle ander kwessies om op kantoor te hanteer en jy sal verstaan dat ek dankbaar is dat dit Vrydag is. Met dit alles as agtergrond, sommer net `n paar kort opmerkings wat ek geleer het in die tyd.
1. Ons stryd is nie teen mense nie, maar `n stryd om die bekendmaking van die waarheid. Selde het ek ervaar dat ekself by name so aangeval word en dit met die gebruik van onjuisthede.
2. Wat maak jy? Jy verdedig nie jouself nie en jy val ook nie ander aan nie, maar ons sal almal moet leer om meer en meer op te staan vir die waarheid! Ek verstaan dat mense nie wil betrokke raak nie. Ons is almal vuisvoos – veral in November, maar ons het geen ander keuse nie.
3. Sommer net een tong in die kies opmerking. Ek sien in die DB die week dat ‘n briefskrywer vra dat ek en diegene op die moderamen wat Belhar ondersteun die “eerbare weg” volg en uit die kerk bedank. Wel ek het nuus vir die “konserwatiewe lidmaat” ( sy/haar eie woordkeuse). In die amptelike syfers wat Kerkspieël in 2006  aangegee het, is genoem dat daar toe reeds 68% van predikante in die Wes-en Suid-Kaap was wat Belhar ondersteun het. As daar aan “konserwatiewe lidmaat’ se wens voldoen word, so lyk dit vir  my, is daar `n redelike uittog oppad… maar wees gerus, ek sal nie loop nie, daarvoor het ek die NG Kerk net te lief.