{ARGIEF}

Gisteraand is ek weer deur van my wyke wat ek in die gemeente bedien. Gewone ou huisbesoek. Miskien verstaan jy nie die gevoel nie. Om laatmiddag tuis te sit na ’n laaang dag op kantoor met baie dinge in jou kop en dan energie bymekaar te probeer maak om in jou motor te klim om onbekende en bekende mense te gaan ontmoet. Deesdae vir my meer onbekend. Jy weet nie wat jy gaan teëkom nie. Jou instink sê: Kan ek nie ook maar net ’n rustige aandjie tuis deurbring nie… maar dan gaan jy. Jy het immers nie die keuse nie.
En dan die verrassing. Jy kom na 2-3 ure op ’n vreemde manier vervuld by die huis. Jy het gewone mense met gewone issues ontmoet. Mense met wie jy nie sou kontak gehad het as dit van jou eie voor of afkeure afgehang het nie. Mense wat almal deel is van wat ons die “NG Kerk” noem. Mense met klein kinders, sommige half uit die kerk, sommige geskei en weer getroud, sommige met eie af vlerke. Sommige goed en ander nie altyd so goed nie, maar meer en meer kom jy agter hoe broos hulle geword het. Mense wat half verbaas vra: Maar waar kry jy die tyd om by ons uit te kom. Ons verstaan dit nie lekker nie. Jy werk mos nou in ’n “hoë” pos by die sinode!
… En jy besef skielik: Leierskap het die blootstelling baie nodig. Kerklike leierskap behoort meer tyd met “gewone mense” deur te bring. Nie net met die “Joodse Raad” nie.
 Ek dink dit vorm ’n mens op ’n andersoortige manier as wat persoonlike vriende en geesgenote, boeke, sinodale vergaderings en emails dit ooit kan doen.