{ARGIEF}

Dit is met ’n magtelose frustrasie, seer en woede wat ek week in en week uit moet hoor van miljarde rande wat vermors word terwyl die kerk en sekerlik ons almal met die grootste armoede en ellende om ons gekonfronteer word.
Ek is absoluut oortuig daarvan dat ons met slegs 10% van die geld wat vermors word – in die regte hande – ’n reuse verskil kan maak.
’n Tyd gelede is ’n klompie myners in Chili na ’n storting in ’n myn vasgekeer. Die hele wêreld het asem opgehou terwyl die reddingspoging aan die gang was. Dit voel vir my of ons en die armes om ons tans so vasgekeer is. Korrupte politici en amptenare veroorsaak rotsstorting op rotsstorting.
Die vraag is waar lê die uitkoms? Ek is net so oortuig daarvan dat ons ons morele basis moeilik gaan herstel sonder een of ander vorm van ware geloofsbasis. Let wel ek sê, ware geloofsbasis. Daar bestaan baie kwasi-christene wat geloof goedkoop maak en die integriteit daarvan met korrupte optrede aantas. Mag God ons genadig wees en mag ons ’n weg vind om saam op te staan teen hierdie monster.