{ARGIEF}

Verlede week hoor ek die pragtige storie oor die gebeure wat in 1959 rondom die huiskomitee-verkiesing in die manskoshuis Dagbreek op Stellenbosch afgespeel het. In daardie jare het net die seniorhuis vir die HK gestem en so gebeur dit toe dat Pickles Matthee 105 uit 105 stemme kry. Die logiese gevolgtrekking: Pickles het vir homself gestem! Dis toe dat die eintlike debat begin. Is dit reg om vir jouself te stem? Onthou, in daardie dae was jy veronderstel om jou nederige self te wees. Nie almal het geoordeel dat om vir jouself te stem, gepas en reg is nie. Ek meen Pickles was `n ware profeet. Laat ek verduidelik.
As mense my sou vra wat die eintlike kwessie is wat die heel meeste mense van ons land gelyktydig raak, dan sou armoede waarskynlik baie hoog op die lys wees. Meer as 50% van ons mense ly daaronder. Soms wonder ek egter of minderwaardigheid, of ten minste mense wat gebuk gaan onder die afbrekende kritiek van die samelewing, nie `n veel hoër persentasie verteenwoordig nie. Jy’s arm, jy’s bruin, jy’s wit, jy’s swart, jy’s “weird”, jy’s `n “nerd”, jy’s konserwatief, jy’s liberaal, jy’s fundamentalisties, jy’s vet, jy’s te ryk, jy dra skuld aan apartheid, jy’s dom, jy’s onkundig, jy’s oorbodig en oortollig, jy’s `n boer, jou kind sukkel, jy’s uit pas. Mis ek iets? O ja. Jy’s te oud, jy’s te jonk, jy is “common”, jy is te elitisties en so kan ons seker aangaan en aangaan. Die moeilikheid is dat mense soms sukkel om hierdie stemme reg te hanteer.
Die Bybel kom ons vertel ons die verhaal van `n Messias wat aarde toe kom, nie net om mense te red vir die ewige lewe nie, maar ook om aan mense hulle menswaardigheid en selfvertroue terug te gee. Christus het dit veral met vroue, kinders, siekes en armes gedoen. Dit was die konteks waarin Hy beweeg het. Oor en oor bevestig die Woord aan ons dat God ons oneindig liefhet en ons graag as sy kinders wil aanneem. Reg aan die begin van die Bybel word dit reeds bevestig dat ons na die beeld van God gemaak is. Alle mense! Daar is geen kleinskrif by die teks wat sommige uit die kontrak laat nie. Ja, baie mense is beelde wat stukkend geslaan is deur die lewe, maar dit verander niks oor hoe God oor hoe hulle voel nie.
Dus, Pickles, ek dink jy’t ons `n guns gedoen. Natuurlik mag jy vir jouself stem en moet jy vir jouself stem. Dit beteken nie dat jy arrogant mag raak nie. Dit beteken nie dat jy nie steeds met die allergrootste nederigheid moet leef nie. Maar dit beteken ook dat jy vandag met die grootste vrymoedigheid in daardie moeilike vergadering mag instap. Jy mag kop omhoog `n funksie gaan bywoon waaroor jy soms voel dat die ander mense jou daar gaan aankyk asof die kat jou ingedra het. Jy mag en moet glo dat daar nog genoeg in jou oor is om die lewe voluit en met oorvloed te kan gaan lewe. Onthou egter dat jou waarde nie in jouself, of jou status, of jou geld, of jou intellek lê nie. Jou waarde is afgeleide waarde. Jy is die skepsel van die Een wat veel groter as jy is. Doen jouself die guns. Kyk, soos die ou kerkvaders, Hom lank, diep en met nederigheid in die oë en stap dan vandag uit om te gaan lewe.