{ARGIEF}

Die prominensie wat die moontlike vrylating van Eugene de Kock en Shabir Shaik die afgelope tyd in die media verkry het, is verstaanbaar. Diep en rou emosies is in die proses blootgelê. Intuïtiewelik voel `n mens aan dat hier veel meer op die spel is as maar net die presidensiële kwytskelding van twee politieke simbole. Dat dit nie `n eenvoudige saak is nie, blyk uit die verskeidenheid standpunte wat die rondte doen. As Christen-gelowige is ek egter in die proses met heelwat vrae en konsepte gekonfronteer wat onlosmaaklik deel van my geloofstradisie is. Ek dink veral aan konsepte soos reg en geregtigheid, genade, vryspraak, vrylating en vergifnis. In Luk 4 lees ons dat Jesus gekom het om die “vrylating van gevangenes uit te roep… om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Was dit `n blote metaforiese geestelike  verwysing, of het dit implikasies vir hulle wat letterlik in die tronk sit? 
Ons weet dat daar binne die Evangelie heelwat sogenaamde paradokse aangetref word. Gee jou lewe en jy sal dit terugkry. Ons lewe uit genade, maar terselfdertyd in gehoorsame uitlewing van die wet. So kan ons aangaan. Hoe egter konkreet gemaak met bogenoemde situasie? Wat die sage nog meer sensitief maak, is dat die vraag al meer gevra word, of De Kock inderdaad nie maar net die rookskerm vir Shaik se vrylating is nie? Word daarmee saam nie `n katnes van gebeure onder die mat ingevee nie? Dit hef egter nie eersgenoemde vrae op nie. Mag ek met huiwering, te midde van die kompleksiteit, vir `n oomblik hardop oor die saak dink?
In die eerste plek weet ek dat die Evangelie ons juis die Boodskap bring dat tweede kanse in die lewe moontlik is. Christus maak dit vir die grootste sondaar moontlik. Dit is juis die wonder van die evangelie. Natuurlik mag dit nooit in die woorde van Dietrich Bonnhoeffer `n “goedkoop genade” wees nie. Genade en vrylating moet altyd gepaard gaan met berou, eerlike erkenning en `n eie pleidooi om vergifnis. Vrylating en genade binne Bybelse konteks geskied altyd binne hierdie raamwerk. Dit geld vir almal van ons.
Terselfdertyd praat die Bybel baie hard en duidelik oor geregtigheid. Ek dink nie ons verstaan altyd hoe belangrik konsekwente geregtigheid vir God is nie. Om geregtigheid te laat geskied vra soms byna bomenslike wysheid. Ons lees reeds in die Ou Testament hoe Salomo se wysheid hom in die regspraak moes help. Groot onreg kan baie maklik in die naam van geregtigheid plaasvind. In die Christelike tradisie word daar egter groot gewag gemaak oor die moontlikheid dat die “Son van geregtigheid” oor ons almal kan skyn. Dit is `n omvattende konsep met baie kante, maar hou onder andere die belofte van Goddelike insig en wysheid in, wat veel meer is as menslike slimmigheid en rede. Ons het dit bitter nodig, veral omdat menslike selfsug en eie belang ons denke so maklik beïnvloed.
Ons het almal verder `n duidelike opdrag ontvang om te vergewe, om te versoen en inderdaad vredemakers te wees.  Hoe kry ons dit reg? Alleen wanneer die Gees ons broos en nederig maak. Wanneer ons sensitief raak vir slagoffers, wie hulle ook al is en waar hulle hulle ook al bevind.
Die debatte oor De Kock en Shaik lê noodwendig ook die geestelike kontoere van die Suid-Afrikaanse psige bloot. Mag ons onthou dat enkelvoudige antwoorde in `n gebroke wêreld skaars is.