{ARGIEF}

Die woorde van `n pa wat sy talentvolle seun `n tyd gelede aan die dood moes afstaan, sal lank by my bly. Saam met al die rousmart wat hy moes hanteer, was daar een groot stuk seer wat hy so opgesom het: “Ek moes nie net my seun begrawe nie; ek moes saam met hom ook baie van my drome begrawe.” Wanneer drome in jou sterf, gebeur daar baie dinge met `n mens. Dit knou jou. Dit verlam jou. Dit maak die lewe taai en moeilik. `n Mens sou meer kon sê. Die feite is dat daar dalk op die oomblik meer drome om ons aan die sneuwel is, as wat mense wil erken.
In Amerika is die sogenaamde “Amerikaanse Droom” in sy spore gestuit. Eers met 9/11 en toe met die groot resessie wat die Amerikaners getref het. Nie almal dink dit is noodwendig net sleg nie, maar soms gaan nugterheid oor in pessimisme en verlamming.  Reg oor die wereld lyk dinge broos. In ons eie land lewe daar miljoene ontnugterde arm mense wat na 1994 groot drome oor `n nuwe, beter lewe gekoester het. `n Klein minderheid het welwaart geproe, maar vir die meerderheid lyk die toekoms steeds donker. Ontnugterde mense is dikwels bitter mense. Mense wat hul drome verloor, verloor dikwels daarmee saam ook energie, passie en hoop. Diegene wat al lande in Afrika besoek het, wat gebuk gaan onder intense hongersnood, sal weet dat wat jou die meeste tref, die gevoel is dat hier baie mense woon wat nie meer drome het nie. Jy kry sulkes egter ook om ander redes in ons eie gemeenskappe, onder alle bevolkingsgroepe, geslagte en ouderdomsgroepe.
 
Die Bybel vertel ons van `n soortgelyke situasie wat jare gelede afgespeel het toe `n klompie Joodse ballinge uit die Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Aanvanklik het hulle met groot drome geleef dat hulle hul land, stad en tempel gaan herbou. Spoedig het die werklikhede hulle oorval en het moedeloosheid ook die leierskap begin lamlê. Hul drome was aan die sterf. Die profeet Sagaria sien dan`n klompie gesigte wat nuwe hoop wil bring. Die plek ontbreek om alles hier te deel, maar `n paar beginsels wat Sagaria tuisbring, geld steeds. Baie jare gelede moes Sagaria reeds die kragtige werking van die Heilige Gees in oënskynlike hopelose situasies ontdek. Die Gees van God laat oud en jonk nuwe drome sien, ook in vasgeloopte situasies (Joël 2; Hand 2). Onthou egter dat die drome wat God gee, dikwels heelwat ruimer en anders is, as die verwagtinge waarmee ons leef.
Verder moes mense weer leer dat drome nie altyd eensklaps waar word nie, maar eerder stukkie vir stukkie waar word. Dalk leef ons na die geweldige rykdom wat mense in die vorige jare bymekaargemaak het, met die misplaaste verwagting en droom dat dit is hoe die lewe werk:  Oplossings kom maklik en eensklaps. Die boodskap van Sagaria is anders. “Moenie die dag van die klein dingetjies gering ag nie” (Sag 4:10). Gaan aan met jou werk, stukkie vir stukkie, tree vir tree, dag vir dag. Dit sal mense inspireer en nuut laat droom.