{ARGIEF}

 In `n land wat kreun onder misdaad, korrupsie en morele verval, is dit verstaanbaar dat die gesprek oor waardes en waardevorming hoog op talle agendas is. In die ekonomiese wêreld hoor ons al meer die term, waarde-gedrewe leierskap. Die wekroep aan politici is duidelik: Julle lê laag op die vertrouensindeks omdat daar getwyfel word oor die waardesisteme waarmee julle werk. Aan kerke word gesê dat ons dalk eers `n bietjie met die Boodskap moet wag totdat ons die Boodskap konsekwent en radikaal beliggaam het. In die hele gesprek duik die woord karakter telkens op. Calvin Coolidge se woorde, “Karakter is die enigste vaste fondasie vir die nasie”, laat `n mens dink. Wat sou karakter egter beteken? In Henry Cloud se boek Integrity (2006), beskryf hy karakter as die vermoë om die werklikheid in die oë te kyk en die vermoë om dit wat die lewe na jou toe gooi, met waardigheid te bly hanteer. `n Gebrek aan karakter het dikwels tot gevolg dat ons na te maklike, oneerlike en goedkoop antwoorde en oplossings vir ons probleme soek. Cloud het my verder gehelp om die volgende belangrike beginsel beter te verstaan: Ontkenning en die verskuiwing van blaam is die handrem vir groei in jou en jou organisasie se lewe. En hoe dikwels sien ons dit nie. Of dit nou die hantering van misdaadsyfers is, ASA se hantering van Caster Semenya of `n gewone individu wat sukkel met `n probleem, dit maak nie saak nie, die beginsel bly dieselfde. Hy stel dit op `n ander plek dat nie almal dieselfde en ewe veel gawes het nie. Dit maak ook nie saak nie. Om egter die gawes wat jy het, tot volle wasdom te bring, vra dat jy nie selektief met kraktereienskappe sal omgaan nie. Gawes help jou gedurende die eerste helfte van jou lewe. Om in die tweede helfte van jou lewe `n sukses te maak, het jy karakter nodig! Scott Peck se bekende woorde, “Life is difficult”, help ons dalk verder. Sommige gelowiges leef met die mite dat jou godsdiens alle probleme soos mis voor die son sal laat verdwyn. Dit is gewoon nie waar nie. Ook gelowige kinders van die Here kry soms bitter swaar. Wat wel waar is, is dat gelowiges die werklikhede wat ons almal tref, anders hanteer. `n Amper weggesteekte teks in 2 Pet. 1 beklemtoon die feit dat geloof nie maar een of ander wondermiddel is, wat ons wêreldvreemd maak en van eie verantwoordelikheid vrystel nie. Die skrywer moedig ons daarom aan (2 Pet.1:5) om die geloof te “verryk” met `n hele lysie dinge wat ons stewige karakter-eienskappe sou kon noem. Die lys is: goeie waardes, kennis, selfbeheersing, volharding, die bewussyn dat God oral teenwoordig is, liefde vir mekaar en liefde vir alle mense! Dis `n ongelooflike samevatting van dit waaroor deesdae boeke vol geskryf word. Oor die genoegsaamheid van geloof is al baie in die teologie geredeneer. Tog is dit asof Petrus hier wil waarsku dat ons geloof inderdaad vlak, leeg en goedkoop kan word. Hy stel dit selfs sterker as hy sê dat ons “alles in die stryd moet werp” om ons geloof hiermee aan te vul. In `n deurmekaar, moeilike wêreld het ons `n volronde geloof nodig wat ons nie uit die wêreld sal laat ontvlug nie, maar ons vierkantig in die wêreld sal laat leef. Dit gebeur onder andere wanneer ons ons geloof met hierdie karakter-eienskappe verryk.