{ARGIEF}

Hier by ons in die gemeente is ons tans besig met `n “groen” reeks. Gisteraand het Dr Ernst Conradie by `n bespreking oor die moderne mens se verbruikersmentaliteit `n opmerking gemaak wat my diep laat dink het. Hy sê daar is `n virus in die kapitalistiese sisteem wat dit laat werk en als vernietig. Dit werk so. Ons leef met `n mite of leuen dat as ons net dit of dat kry, dan sal ons gelukkig wees. Ons jaag dit dan na, kry of koop dit, net om na `n rukkie agter te kom dit maak nie regtig gelukkig nie. Dan begin ons die volgende “droom” najaag. So groei die ekonomie, maar vernietig ons die ekosisteem in die proses. Ek weet dis dalk oorvereenvoudig gestel, maar is beslis iets van die waarheid.
Daar is ook `n teorie wat sê dat ons eers die ekonomie moet regkry, dan sal daar “heel” mense wees en dan kan ons aandag aan die ekologie gee. Ander sê weer, nee. Kry eers weer die aarde en ekologie reg. Kry ons waardes en verbintenis met die aarde reg, dan sal ons weer heel mense hê, wat sal weet hoe om `n volhoubare ekonomie daar te stel.
Toe die vleiloerie nou die oggend so verskriklik mooi in my tuin sing en my hart warm maak, het ek geweet dit is belsis ook iets van die waarheid.