{ARGIEF}

Dit is vandag presies 50 jaar gelede sedert dr. Anton Rupert op Stellenbosch `n toespraak gelewer het waarin hy verwys het na die “revolusie van stygende verwagtings.” Die toespraak het oor `n verskeidenheid revolusies gegaan wat die mensdom al beleef het en in die gesig staar. Ondermeer het hy gesê, dat as ons die laaste 500 000 jaar van die wêreld se geskiedenis tot 50 jaar sou reduseer, alles wat ons “materiële” wêreld uitmaak (1961) in die laaste 24 uur ontdek is. Verder het hy daarop gewys dat politieke revolusies in Afrika, wat nie gerugsteun word deur behoorlike ekonomiese ontwikkeling en bestuur nie, tot verdere revolusies sal lei. Rupert was in baie opsigte reg. Ook die tegnologiese revolusie sou verdere verwagtinge skep. Hierdie verwagtinge is 50 jaar later steeds met ons, met `n eiesoortige plofbare dinamika.
Die onrealistiese verwagtinge van mense in die Westerse wêreld het die een skuldkrisis na die ander geskep. Die Amerikaners is nou op die voorpunt daarvan. Hulle het `n “plan” gemaak, maar ek dink die Chinese is dalk reg: Die bom se lont is net langer gemaak. In ons eie land leef bevoorregte mense, wit en swart, steeds met die verwagting dat die luukses sal toeneem. `n Groot viertrekvoertuig word amper as `n vanselfsprekendheid gesien. As ek nie een het nie, het ek dit nie “gemaak” nie.
Maar dis nie al waar die verwagtinge styg nie. Die “rustelose massas”, soos hulle al meer en meer genoem word, se gefrustreerde verwagtinge neem ook toe. In `n restitusie gesprek verlede week hier by ons in die gemeente, antwoord `n kollega uit Khayelitsha op `n vraag oor wat swart mense se verwagting is, vreeslik eenvoudig: “Ek wil net dit hê wat witmense ook wil hê: `n huis, `n motor, `n veilige omgewing en goeie opvoeding vir my kinders. Is dit te veel gevra?” Die probleem is dat daar in Suid-Afrika tans ten minste 25 miljoen mense is wat onder die armoede lyn leef , wat ook met hierdie verwagting leef. Oor hoe realisties hierdie verwagting op die korttermyn is, wil ek my nie nou uitlaat nie. Laat ek egter eers die volgende van my hart af kry.
’n Land met ’n korrupte waardestelsel sal steeds armer word, ongeag die mooiste planne wat oor armoede-verligting gemaak word. Op die langtermyn is armoede gewaarborg! Alles dui daarop dat die korrupsie vlakke in ons samelewing `n krisispunt bereik het. Waar laat dit ons?
Die vroeë Christendom was inderdaad `n revolusionêre beweging. Jesus Christus het baie ordes kom omkeer en so ook sy volgelinge. Een van die redes waarom hulle dit met soveel oorgawe kon doen, is omdat ook hulle met nuwe verwagtinge geleef het. Daar was `n verwagting van vryspraak, nie deur die onderhouding van die wet nie, maar deur hul geloof in Jesus Christus. Daar was `n verwagting van `n nuwe lewe, ook na die dood. Daar was die verwagting dat Christus deur sy Heilige Gees met hulle sou wees en sou sorg. Hulle het die krag van die Heilige Gees beleef en verwag dat Christus weer sou kom. Dit het hulle radikaal anders laat lewe! Hulle het besittings verkoop en dit met die armes onder hulle gedeel. (Hand 2:44; 4:32) Hulle het nuwe gemeenskappe gevestig wat in guns en aansien by die volk gegroei het (2:44) Hulle het minder materiële verwagtinge gehad, maar vrede verwag , nie die vrede wat die wêreld gee nie, God se vrede. (Joh 14:27) Ons verstaan dalk nog te min hiervan.