{ARGIEF}

Grond en die besit van bates word ’n al groter kwessie in ons samelewing. Een van die woorde wat telkens in die gesprek opduik, is die woord restitusie, of te wel die teruggee aan diegene wat bogenoemde onregmatig verloor het. Vir sommige is dit ’n woord wat hoop inhou en vir ander ’n woord wat bedreiging inhou. In onlangse gesprekke, wat ek met ’n aantal Christene van verskillende afkoms en kerklike agtergrond gehad het, het dit vir my baie duidelik geword dat die kerk hierdie kwessie nie langer kan ignoreer nie.
Deel van die probleem is egter dat, wanneer daar oor restitusie gepraat word, daar dikwels ongekwalifiseerd en onduidelik oor die saak gepraat word. Vir diegene wat weet dat hulle iets sal moet afstaan, skep dit onsekerheid en bedreiging. Vir diegene wat hoop om by die gesprek te baat, skep dit dikwels onrealistiese verwagtinge.
Laat ons dit eers duidelik stel: Oor een ding mag die kerk nie verskil nie. God is ’n God van reg en regverdigheid. God herstel altyd weer, al neem dit tyd, onreg en veral wanbalanse in die geskiedenis en skepping. Dit sal die natuur jou leer.
Tog is dit so dat ons deesdae sukkel om behoorlik oor restitusie te praat. Nie dat sommige nie wel daaroor praat nie. Een persoon wat padlangs hieroor praat, is Julius Malema. Hy gebruik wel ander taal, soos “nasionalisering”, maar is ten minste baie duidelik oor wat hy verwag. “Gee 75% van al julle grond en al die moeilikheid is opgelos.” Maar gaan dit ons enduit help? Die geskiedenis vertel ’n ander storie. Vergun my dus net die volgende.
Eerstens. Ons sal eerlik en reguit met mekaar oor die saak moet praat. Tans is daar baie emosie, persepsies en wanpersepsies wat die gesprek beïnvloed. In so ’n gesprek gaan alle partye dinge hoor waarvan hulle nie hou nie. Ons mag nie daarvoor terugdeins nie. Ons sal egter met moed, eerlikheid en deursigtigheid die gesprek moet voer. Dit gaan nie vanself weggaan nie. My blootstelling aan Zimbabwe het my geleer wat gebeur wanneer jy die proses aan ’n “jeugliga” en ’n onbesonne diktator oorlaat. Gelukkig is daar ook voorbeelde soos in Chili, waar grondhervorming gekoppel is aan verantwoordelike opleiding, dissipline en werklike benutting van die grond. Wanneer dit gebeur, bring dit vrede. Daarsonder duur die onrus voort.
Tweedens. Restitusie en versoening mag nooit losgemaak word van mekaar nie. Restitusie wat nie tot heling en versoening lei nie, help min. Dit kan dinge selfs vererger. Om dus net te sê : “Gee my soveel en soveel”, en dan weg te stap van mekaar om niks weer met mekaar te doen te hê nie, gaan ons nie help nie. Restitusie moet dus plaasvind binne ’n verhouding. Waar die verhouding nie bestaan nie, moet daaraan gewerk word
Derdens. Restitusie moet meer as ekonomiese geregtigheid in die hand werk. In die gesprek word die term “helende geregtigheid” soms gebruik. Dit moet inderdaad gaan oor restitusie wat lei tot die herstel van verhoudinge en die heling van gemeenskappe. Ek is nie seker of almal dit al behoorlik verstaan nie.
Laastens. Vir Christene begin restitusie nie in onderhandelinge of raadsale nie, maar op jou knieë en in ’n verhouding met God self. Ware restitusie is wat jy aan ander doen, in die vryheid van jou gewete, omdat jy oortuig is dit is die regte ding om te doen. Nie omdat jy gedwing word om dit te doen nie. Mag kerke hierin vir ander ’n voorbeeld stel.