{ARGIEF}

In `n wêreld vol lyding en seer het ek al dikwels gewonder watter tipe lyding die heel seerste maak. Op `n manier sou jy seker kon sê, dat dit die seer is wat jy op die oomblik ervaar. Seer is in elk geval relatief en moet tog nooit iemand probeer troos deur vir hom of haar te vertel hoe swaar ander mense eintlik kry nie. Die lysie van seer is eindeloos. Daar is siekte en dood. Miljoene mense ly onder fisiese chroniese pyn. Ek dink aan die dood van `n vriend of `n familielid en veral die dood van `n kind. Kan daar iets swaarder wees? Ek wens dit niemand toe nie.
Maar soms is die dood genadig. Dit sal mense jou ook kan vertel. Vir baie mense is daar erger dinge as die dood. Daar is verwerping en werkloosheid, armoede, honger en eensaamheid. Ja daar is die verskriklike pyn van egskeiding en gebroke verhoudings. Daar is fisiese geweld. Daar is die pyn van verlang na iets wat jy nooit sal kan hê nie. Daar is depressie en angs. Wie sal dit ooit kan verstaan as jy dit nog nie ondervind het nie?
Maar vandag wil ek oor iets anders `n paar woorde sê, naamlik: Die hel van onsekerheid. `n Kind raak weg of word ontvoer en niemand weet of hy of sy nog lewe nie. Ek ken ouers wie se kinders so weggeraak het en nooit ooit gevind is nie. Jy hoor dat jy dalk jou werk gaan verloor of vermoed dat jy aan `n ongeneeslike siekte ly , maar niks is seker nie. Daar is `n hangende hofuitspraak wat jou lewe ingrypend kan raak. Jy vermoed dat jou kinders met verkeerde maats deurmekaar is en dalk dwelms gebruik. Die onsekerheid wat die ekonomie, die politiek en die ekologie inhou, is maar effe gemeet teen bogenoemde. Ons sou die lysie veel langer kon maak.
Verskillende mense hanteer hierdie onsekerheid op verskillende maniere, maar op die ou end val hulle uiteen in twee groepe. Aan die een kant is daar diegene wat die wêreld om hulle krampagtig probeer verander. Aan die ander kant is daar diegene wat daarna soek om die rus en kalmte in hulle binneste te herstel. Innerlike en uiterlike vrede staan nie noodwendig teenoormekaar nie, maar ware vrede word bitter selde buite jou siel gevind.
Donderdag vier ons die aspoestertjie van alle Christelike feesdae: Hemelvaart. Voor sy hemelvaart het Jesus aan sy dissiples gesê: Vrede laat Ek julle na, my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie… (Joh 14:27) Die ou kerkvader Augustinus het na `n bedenklike jeug en baie gebede van sy moeder Monica `n ander pad ingeslaan en die beroemde woorde nagelaat: “My hart is onrustig tot dit rus vind by God.” My geloof in God haal beslis nie alle onsekerheid uit my lewe nie, maar wat dit wel doen, is om die wanhoop uit my onsekerheid haal.