{ARGIEF}

Soms hoor `n mens die vraag of daar sommige sondes is wat groter is as ander? Is daar dinge wat jou makliker vergewe word as ander? Vir Fiela Komoetie in Dalene Matthee se Fiela se kind, was een dink duidelik: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ‘n kind aandoen nie”. Die vroeë kerk het ook lysies van erge sondes gehad. “Doodsondes” is dit genoem. Dit is oor een van hulle wat ek vandag iets wil sê: Trots, of te wel hoogmoed. soos dit op verskeie plekke in die Bybel genoem word en wat deur die Here verafsku word. (Spreuke 6:17)
Laat ons dit dadelik sê, daar is sekerlik vorme van trots wat nie sleg is nie, maar dis die hoogmoed-ding waaroor die Bybel dit so ernstig het.
Hoogmoed het baie gesigte, maar sekerlik is die eerste wat ons moet weet, dat hoogmoed so gevaarlik is omdat dit so verskriklik moeilik is om self raak te sien. Daarby is die skade wat dit aanrig aanvanklik so subtiel, maar het dit `n manier om soos `n kanker al verder te versprei.
Nou die dag hoor ek iemand weer sê: “Daai ou praat nooit sleg van ander nie, want hy praat die hele tyd net oor homself!” Hoogmoed is natuurlik die tweelingboetie van ego en ego die alterego van selfaanbidding. Hoogmoedige mense aanbid eintlik hulself.
Maar daar is meer. Hoogmoedige mense lewe met meer moed as wat wenslik is. Hulle dink meer van hulself as wat in werklikheid geldig is. Hulle sien neer op ander en verstaan nie dat alles wat hulle is eintlik `n gawe is nie. Ander simptome sluit in: Ongeduld, onvriendelikheid, afguns, liggeraaktheid, grootpraterigheid en eiebelang. Klink dit bekend? Ja, ons lees hiervan in 1 Kor. 13. Hoogmoed is eie liefde wat direk staan teenoor die liefde vir ander. Hoogmoedige lewens raak al hoe meer ingewikkeld en dra swaar bagasie met hul saam omdat hulle altyd moet goed lyk. Hulle is nie maklik verkeerd nie en sê nog moeiliker hulle is jammer.
Wat maak ons nog hoogmoedig? Kennis kan ons hoogmoedig en beterweterig maak. So ook sukses en onbegrip vir ander en waar hulle vandaan kom. Mag kan ons hoogmoedig maak. Hoogmoediges kyk na die wêreld deur hul eie oë en sukkel om dit deur God se oë te sien. Hoogmoed maak seer, soms baie seerder as fisiese geweld, maar dit kom tot `n val! (Jesaja 5:15)
En wat sou help? Ootmoed. Dis nog `n woord wat ons nie meer baie gebruik nie. Dit is egter meer as blote nederigheid. Dit is `n lewensmoed wat vloei uit `n neerbuig voor God en ander, nie omdat jy minderwaardig is nie, maar juis omdat jy geleer het wat genade beteken. In die woorde van Romeine 11:17-18: Ons is wilde takke wat op `n mak tak ingeënt is. Onverdiend. Ons dra nie die wortel nie. Die wortel dra ons. Laat ons dit nooit vergeet nie.