{ARGIEF}

Daar is nie genoeg geld in die wêreld om ʼn ongedissiplineerde kultuur volhoubaar toe te smeer nie.
Tydens ʼn beraad van kerkleiers twee weke gelede, waar al die grootste kerke in ons land verteenwoordig was, is die onderwys tot ʼn nasionale krisis verklaar en nie sonder goeie rede nie. ʼn Onlangse gradering het Suid-Afrika se onderwysstelsel 49ste uit 53 Afrika lande geplaas. Wat wiskunde en wetenskap betref is ons wêreldwyd gemaklik in die onderste tien persent geplaas!
Die vraag is: waarom? Daar word reeds ʼn reuse bedrag uit ons nasionale begroting aan onderwys toegewys, waarskynlik die meeste in Afrika. Tog sukkel ons. Die redes is legio, maar kom ons kyk na `ʼn paar.
Dit is so dat ons tans met ʼn gebroke erfenis sit. Tydens die apartheidsjare is baie onderwysers sonder behoorlike opleiding aangestel en die politieke klimaat (No education before liberation) het beslis nie ʼn onderwys kultuur help skep nie. Vandag is daar leerlinge in die sisteem, wat meer van wiskunde verstaan as die onderwysers self. Sedert 1994 het ons kurrikulum ook meermale verander. Stakings en afwesigheid word dan ` ʼn goeie opsie om die situasie te verbloem. Van die vakbonde verhoog met vroom agendas die krisis.
Die groot probleem is egter ʼn gebrek aan dissipline. Dit geld vir baie onderwysers en leerders. Die ineenstorting van baie gesinstrukture, die een instelling wat die onderwys jare lank op voetsoolvlak ondersteun het, vererger die krisis. Ongekontroleerde liberale denke oor dissipline in skole help ook nie juis nie.
Die vraag is waar dit die kerk laat? Ek het al voorheen verwys na die feit dat die kerk ʼn eeue- oue verbintenis met die onderwys het. Enersyds het kerke skole gesien as ʼn noodsaaklike instrument om kinders te leer lees en so aan die Bybel bekend te stel . Aan die ander kant het kerke dit nog altyd as hul Godgegewe roeping gesien om die behoeftes en nood van kinders aan te spreek. Hoe dus nou gemaak?
Daar word reeds beplan aan `ʼn konferensie in Maart 2012, waar daar saam gedink sal word oor die verband tussen armoede en (gebrekkige) onderwys en waar die sistemiese oplossings lê.
In die tweede plek moet kerke verstaan dat goeie gesinsbediening noodwendig ʼn indirekte positiewe invloed op die onderwys sal hê. Een van die kerk se kernfunksies lê in die vestiging van ʼn gedissiplineerde morele basis in ons samelewing. Vandag is dit geen maklike taak nie, maar ons mag nie moed opgee nie en voortdurend helder hieroor bly praat.
Derdens is daar steeds enorme kapasiteit in kerke opgesluit. Daar is voorbeelde waar dit reeds gebeur, maar mag hierdie kapasiteit al meer en meer as ʼn diens aan die gemeenskap aangebied word om aanvullende onderwys te verskaf.
Vierdens is daar ook kerkgeboue en ander fasiliteite wat beskikbaar gestel sou kon word om onderrig te gee. Ons weet dat dit dalk nie die eerste behoefte is nie, omdat daar wel gebiede is waar daar skole leeg staan weens wanbestuur. Tog is daar ook areas waar dit in ʼn besondere behoefte sou kon voorsien.
Laastens en dalk van die heel belangrikste wat ons sou kon doen: Ons moet ons onderwysers beter ondersteun en vir hulle bid. Dit klink dalk vreeslik vroom, maar as jy glo dat daar ʼn stryd tussen Lig en duisternis besig is om af te speel, is ons skole dalk juis een van dié plekke waar die veldslag vandag op dramatiese wyse afspeel.