{ARGIEF}

Grond was nog altyd `n emosionele kwessie. Dit was so in Bybelse tye en is vandag nog so. Een van die kwessies waaroor dikwels gestry word, is wie op wat kan aanspraak maak en watter beginsels toegepas moet word om dit te bepaal. Die geskiedenis leer ons dat die antwoorde nie altyd so eenvoudig is nie. Miskien kan ons wel iets leer uit die geskiedenis van Israel.
Baie jare gelede het die volk Israel die “Beloofde Land” beset. Die boek Josua en later ook Rigters, vertel ons daarvan. Die intog het plaasgevind van die ooste kant van die Eufraat tot in wat vandag as die Wes-Oewer bekend staan. Die land is verower, maar telkens lees ons dat nie al die volke verslaan is nie en dat die vroeëre inwoners tussen die Jode bly woon het. (Sien byvoorbeeld Josua 15: 63 oor Jerusalem)
Hierna lees ons dat die volk oor en oor gewaarsku is deur die profete, oor hul gebroke verhouding met God en hul verhouding met die mense om hulle. Dit kon hul tuiste in Kanaän in gedrang bring. Reeds in Rigters 2:10 lees ons dat die eerste geslag kinders in die nuwe land die Here nie geken het nie. So kom dit toe dat die Assiriërs in 722 v.C. en die Babiloniërs in 598 v.C. die land binneval en duisende Jode as ballinge wegvoer. Baie sou na jare terugkeer en Jerusalem en die tempel herbou. In die Nuwe Testament lees ons egter die vermaning van Christus dat die tempel weer verwoes sou word. Dit het inderdaad in 70 n.C. gebeur en na Joodse opstand teen die Romeine is hulle weer oor die wêreld verstrooi.
Vir amper 2000 jaar sou die Jode grootliks oor die aarde versprei woon. Teen die einde van die 19e eeu het daar `n nuwe nasionalistiese bewussyn begin gegroei en het Jode stukkies van die land begin terugkoop. Veral na die Tweede Wêreldoorlog en die massamoord op die Jode het dinge momentum begin kry en in 1947 besluit die destydse VVO oor grond vir Israel met Tel Aviv as hoofstad. In 1948 kom die “moderne” Israel tot stand. Steeds sou nasionalisme en nou ook die militêre mag van Israel bly groei en in 1967, tydens die Sesdaagse Oorlog word die gebied bekend as die Wes-Oewer, verower. Die “rus na alle kante toe” waarvan Josua 21: 44 praat, het egter weggebly. Die Jode en Palestyne baklei vandag nog. Daar is alles behalwe vrede.
Wat leer ons hieruit? Ten minste twee dinge. Die eerste is hoe kompleks grondbesit kan word, veral as jy die geskiedenis regtig in totaliteit probeer verstaan. Die tweede is egter nog belangriker. Dit voel vir my of daar sekere kwessies is wat nooit in terme van “regte” uitgesorteer word nie. Wat wel belangrik is, is dat daar `n weg vir mede-menslike bestaan, te midde van die kompleksiteit gevind moet word. Die Jode en die Palestyne sukkel daarmee en die geskiedenis vertel `n tragiese verhaal. Ek kan maar net hoop dat ons hier in Suid-Afrika uit daardie lesse sal leer.