{ARGIEF}

Die nasionale stakings was die afgelope tyd erg in die nuus en ook nie sonder rede nie. Dit raak mense se lewens baie direk. In sommige gevalle het dit selfs mense hul lewe gekos. Die vraag wat dikwels onder Christene gevra word, is hoe ’n mens as gelowige oor die saak moet dink. Laat ons dadelik sê, die saak is kompleks en wie nie kompleksiteit wil of kan verstaan nie gaan sukkel om by ’n helder verantwoordbare standpunt uit te kom. Kortliks ’n paar kort kantaantekeninge wat dalk rigting aan die gesprek mag gee.
Binne die Christelike etiek laat ons ons altyd, ook wat spesifieke sake aanbetref, lei deur groter beginsels. Kom ons kyk na ’n paar sulke beginsels wat dalk hier mag geld
• Geregtigheid en billikheid. Die uitbuiting van mense kan nooit die norm wees nie.
• Balans en ewewig. Waar daar wanbalanse in die natuur of samelewing bestaan, moet dit reggestel word.
• Respek vir lewe en ander se mening en besittings.
• `n Toewyding aan en bereidheid om ’n saak wat groter is as jyself, te dien.
• Eerlikheid en deursigtigheid.
Ek weet nie of dit help nie, maar ek moet sê dat ek lanklaas soveel simpatie en ongemak, met beide kante van ’n saak gehad het. ’n Paar vrae hou my besig.
• Waarom het die staat nie beter beplan nie?
• Moet alle staatsdiensamptenare oor dieselfde kam geskeer word? My hart gaan uit na verpleegsters en onderwysers. Moes hulle nie al lankal beter vergoed gewees het nie?
• Natuurlik is die geweld onaanvaarbaar. Met watter agenda werk die vakbondleiers?
• Hoe gaan ons die gaping tussen salarisse in die land verminder? Peter Drucker het jare gelede gesê dat die baas nooit meer as 20 keer die salaris van die gewone werker mag kry nie. Vandag is die syfer in groot maatskappye nader aan 300 keer die van die gewone werker… en ek weet dit is kompleks!
Wat ek wel weet is dat ons te min vir ons land bid. As ons dit nie doen nie, gaan daar dalk ’n dag kom waar ons sal sê die sokker WB was inderdaad maar net die oog van die storm.