{ARGIEF}

Saam met al die vraagstukke en kwessies wat tans op die kerk se tafel is, is daar twee dieper vrae wat nie verbygegaan kan word nie: Watter rol behoort die Bybel nog in ons lewe te speel en net so belangrik, hoe moet ons die Bybel in 2012 lees en verstaan?
Terwyl daar natuurlik mense is wat komplekse vraagstukke sonder die Bybel hanteer, kan die kerk dit moeilik doen. Binne die gereformeerde tradisie, waarvan ek deel is, leer ons dat ons lewe op vier belangrike “fondamente” rus. Jy sou kon sê dat dit ons geestelike DNS vorm. Dit is die Skrif, genade, geloof en Christus. Gooi jy een weg is jy soos `n motor wat sluk-sluk loop omdat een silinder die gees gegee het.
En dis hier waar die probleem ontstaan. Kan ons nog die Bybel in die moderne era glo? `n Vriend van my sê dat hy die Bybel twee keer deurgelees het en toe opgehou het om dit te lees. Daar was net te veel goed wat vir hom nie sin gemaak het nie.
Kom ek gee nog `n eenvoudige voorbeeld. In Deuteronomium lees ons binne die bestek van `n paar hoofstukke: Vroue wat mansklere dra en omgekeerd word deur die Here verafsku (Deut. 22:5), opstandige, ongehoorsame kinders moet met klippe doodgegooi word (Deut: 21:20) en jy mag nie volstruisvleis eet nie! (Deut. 14:15) As laasgenoemde waar is, het die boere van Oudtshoorn groot moeilikheid. Hoe dan nou gemaak?
Erkende teoloë stem saam dat jy nie haastig met die Bybel kan omgaan nie. Maar wat beteken dit konkreet? Kom ek deel `n paar beginsels.
Eerstens moet jy die Bybel behoorlik ken. Na veertig jaar van omgang met die Bybel ontdek ek steeds “nuwe” tekste, dimensies en boodskappe. My oupa-grootjie kon vir jou hoofstukke uit die Bybel opsê. Een ding weet ek. Hy het die Bybel geken.
Afgesien daarvan dat jy taalkundig (vertalingsgewys) noukeurig met die teks moet omgaan, moet jy die teks tweedens ook in konteks lees. Elke teks is verpak in `n bepaalde literêre genre, het `n sosiale- en historiese agtergrond, maar staan ook in verband met ander tekste en moet so gelees word. Die Bybel ontsluit so homself.
Derdens is daar die beginsel van kontinuïteit en diskontinuïteit. Sommige tekste en temas kom slegs eenmaal in die Bybel voor. Ander temas kom slegs in die Ou- of Nuwe Testament voor en ander kom herhaaldelik en deurlopend voor.
Vierdens kan jy die Skrif net ten volle verstaan, wanneer jou denke en God se denke in ’n intieme verhouding en onder leiding van die Gees, in harmonie met mekaar is. Dit bly immers God se Woord. (1Kor.2:14-15)
Vyfdens behoort gelowiges na mekaar te luister. Dit was die moeilikheid met Apartheid. Ons wou nie na stemme van mede-gelowiges regoor die wêreld luister nie. Wysheid word in die breë gemeenskap van gelowiges gevind. Nie in jou eie klein hoekie nie.
Wanneer jy hierdie beginsels begin toepas, gaan daar nuwe wêrelde oop. Lekker lees aan die steeds mees gelese boek op aarde.
braam@kaapkerk.co.za