{ARGIEF}

Na ons  sinode te Goudini het ek die onderstaande navraag van `n joernalis gehad.  Sy vrae het my gehelp om my eie denke nog meer helder op een of twee punte te formuleer. Ek plaas hier sy vrae en my volledige antwoord aan hom:
Braam,
Ek hoop jy kon al tot verhaal kom na ‘n lang en bedrywige sinode. Daar is twee goed wat ek graag by jou wil opklaar ten opsigte van besluite wat geneem is.
1. Hoe beoog julle in die Wes-Kaap om die verskille wat daar oor Belhar is verder te hanteer? Piet Strauss het op navraag vir my gesê. “Die aanbeveling van die Moderamen van die Algemene Sinode is dat die besluite van die Algemene Sinode van 2004 wat as aanbevelings beskou is, nou beleidsbesluite word.” Ek wil graag weet presies wat beteken dit en of daar gesprek gaan wees om die verskille tussen die aanbevelings van die Algemene Sinode se moderamen en die Weskaap se sinode te probeer uit die weg ruim? Julle kan tog seker nie aan die sinode se aanbeveling verander nie of hoe? Kan jy dalk groter duidelikheid gee hoe julle die pad vorentoe sien en ook wat was die algemene reaksie van gemeentes en lidmate op julle besluit tov Belhar?
2. My tweede vraag gaan oor die sinode se aanbeveling na aanleiding van die besluit oor die bediening van bevryding. ‘n Deel van die besluit lui: ”Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, sowel as vir lidmate wat nie aan die bestaan van die duiwel en demone glo nie maar die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” Hoe vertolk jy die besluit? Jou reaksie uit die voorsitterstoel het die indruk geskep dat jy die besluit anders vertolk maar daar was geen bespreking oor die saak nie.
Groete
Beste
Ek wens ek kon eerlik sê dat my neus al bo die water is, maar was na sinode met kerkverpligtinge in Pta. en eers werklik van gister af op kantoor. Ek probeer jou dus ten beste net kortliks antwoord.
1. Ek dink ons moet ten alle koste in die dae polarisasie vermy. Die krag van ons pad wat ons met Belhar geloop het, was juis dat ons dit reggekry het om polarisasie tot die minimum te beperk. (Lees Gerrit Boostra se brief in DB : Dit was eintlike wonderwerk van Goudini) Dit het ook die afloop bepaal. Ons almal moet hande vat om die waarde te versterk. Ek het na die sinode nog net een mistroostige briefie van Pieter Hurter gekry maar ek dink ons ken sy standpunt. Die res was nog net positief!
2. Wat Belhar self betref kan ons natuurlik nie die Wes-Kaap se besluit verander nie. Dit behoort nie aan my nie maar nou aan die sinode. Dit sal so as voorstel of amendement op ASM se voorstel op tafel kom. Regstegnies sal nog besluit moet word wat die korrekte prosedure is, maar dit sal daar wees. Ek dink ons het geleer hoe om sensitief en in liefde met mekaar te praat, al verskil ons.
3. Wat jou laaste vraag betref net die volgende. Ek het moeite op die sinode gemaak om die HELE besluit spesifiek te laat voorlees (feitlik ’n hele A4 bladsy) , omdat die besluit in totaliteit ’n boodskap wil uitstuur en juis so geformuleer is. Wanneer net enkele sinnetjies daaruit geneem word herinner dit my aan die wyse waarop fundamentaliste ’n teksteologie gebruik sonder om die ruimer konteks van die teks in ag te neem. Ek oordeel dat die gees en die kern van die besluit oor die volgende gaan:
– Dit wil onomwonde die heerskappy en die oorwinning van Christus oor die Bose/Satan/ Leuenaar/ Duiwel (watter naam jy ook al daaraan wil heg) bely
– Op GEEN manier mag enige gesprek oor die persoonlike aard van die Bose al dan nie, die indruk skep/ persepsie laat, dat die sinode gesê het dat die Bose nie bestaan nie of selfs onseker is oor die bestaan en werklikheid van die Bose nie. Die opskrif in DB het daardie indruk by baie lidmate gelaat. Die terugvoering en vrae wat ek na die sinode kry, bevestig dit! Met my interpreasie het ek hierdie punt duidelik probeer stel en het die volle steun van die moderatuur daaroor.
– Ek is bekommerd dat ons oor die persoonlike aard van die Bose al dan nie kibbel terwyl daar tans brandende kwessies (sommige letterlik) in die land is om te hanteer. Tong-in-die-kies: Ons sou dit selfs “helse” kwessies kon noem.
Ek hoop dit help jou
Vriendelike groete
BRAAM HANEKOM