{ARGIEF}

Ek wil my nie slim hou nie en natuurlik is dit maklik om terugskouend slim te wees, maar die Amerikaanse krisis het ek lank sien kom. `n Klompie jare gelede het ek die boek van Bernard Lietaer, The Future of Money, gelees. Dit was die eerste keer wat ek die byna demoniese kante van skuld regtig begin verstaan het. Skuld is nie maar net skuld nie. Dit het baie maklik `n akkumulatiewe effek wat op die ou end verlammend inwerk. In die tagtiger jare het n rubriekskrywer in die VSA, wat onder die skuilnaam “Adam Smith” geskryf het, ook die val en krisis sien kom.
My eerste gewaarwording van moeilikheid, was toe ek in 1995 die eerste keer die VSA besoek het en met byna ongeloof die plate en plate tweede handse motors teen belaglike goedkoop pryse sien staan het, selfs in die kleinste dorpie. Toe het ek al vir myself gesê dat die storie soos spitstyd op die N1 is: `n Klein ongeluk kan die hele boedel laat staan.
Nou is ons daar? En wat sou die implikasies vir n land soos Suid-Afrika wees wat juis nou groei en vooruitgang nodig het om ons armoede-probleem aan te spreek? Dalk is dit die begin van n omkeer, ook hier, soos na die 1929- `33/34 depressie toe die Afrikaner letterlik ook teen die planke was. Maar dit het n spesifieke optrede en plan gevra. Die kerk het ook daarin `n groot rol gespeel.
Ek is dus nie heeltemal mistroostig nie en glo ons sal anderkant uitkom. Tog weet ek dat baie mense in die proses gaan seerkry/ swaarkry en dat ons almal geroep gaan word tot groter, nederigheid, soberheid en ootmoed. Dit is nie noodwendig `n slegte ding nie.