{ARGIEF}

Kenny Kunene se soesji-partytjie en my eie weeklange bywoning van die Lausanne III konferensie het my kop die afgelope paar dae besig gehou. Om heel verskillende redes het beide my diep laat nadink oor die groeiende kwessie van rykdom en armoede, regoor die wêreld. Daar is soveel komplekse kante aan die saak. Lank laas was ek so oortuig dat ons hierdie kwessie as gelowiges nie langer mag ignoreer nie.
Baie statistiek is bekend, maar dink net vir `n oomblik weer hieroor. 2,6 miljard mense lewe op minder as $2 per dag. Een uit elke vier kinders wêreldwyd is ondervoed en gestremd as gevolg van wan- en ondervoeding. Op hierdie oomblik verkeer 400 miljoen kinders in intense honger en sterf daar elke 5 sekondes `n kind weens honger. In 2007 het Amerikaners twee keer meer aan juwele en kosmetiese chirurgie bestee as wat hul regering aan buitelandse hulp bestee het. 20% van die wêreld verbruik 86% van alle goedere. So skryf Richard Stearns, van World Vision in, The hole in our Gospel (2009).
Waar laat dit ons in Suid-Afrika? Wel, soos al voorheeen gesê, leef ons in die land in die wêreld waar daar die grooste gaping in die wêreld tussen rykdom en armoede bestaan. Prof. Sampie Terreblanche noem onlangs aan my dat die boonste 20% van ons bevolking, wat terloops nou mooi gelykop verdeel is tussen wit- en swart mense, saam 74,7% van die land se inkomste verdien. besit. Die onderste 20% verdien 1,4%!
Daarom moes ons aanmekaar vir ons mede wêreldgenote by Lausanne III daaraan herinner dat Suid-Afrika `n fantastiese land is en dat Kaapstad die mooiste stad in die wêreld is, maar dat daar ook `n Kruispad, `n Wallacedene, `n Du Noon en veel meer, nie ver hiervandaan is nie.
In dae soos hierdie sal die kerk `n krities, nadenkende en profetiese rol moet speel. Ons sal dit nie-veroordelend en in nederigheid moet doen, omdat baie van ons deel is van daardie klein bevoorregte groep. Een van die dagtemas by Lausanne III was: Nederigheid, integriteit en eenvoud. Dit is nie sonder rede gekies nie. Jy sien, nêrens in die Bybel staan daar dat rykdom sondermeer sonde is nie, maar die Belydenis van Belhar is reg. God het `n baie sagte plekkie vir die armes. Geld is nie die probleem nie, maar hoe ons daarmee omgaan en wat dit soms aan ons menswees doen, kan `n massiewe probleem word!
Armoede daarteenoor, is nie net die afwesigheid van geld nie, maar meer dikwels die resultaat van dit wat in die denke en psige van mense plaasvind. Sopkombuise verlig die simptoom en moet daar wees, maar dit los nie die probleem op nie. Ek glo egter meer as ooit tevore dat God juis denke kan vernuwe en verander (Rom. 12). Daarom mag die kerk nie nou stilbly nie.
Moet ek al my goed verkoop en vir die armes gee? (Matt. 19) Jesus sê self, jy sal dit nie regkry as God nie ook jou eie denke verander nie. Wanneer die bevrydende boodskap van Christus jou pak en die Gees jou vul, dan word ons bereid om soos Paulus te sterf, ook aan ons begeertes. Dan is daar ander goed wat jou lewe vol vreugde en vrede laat. Dit proe anders en jy moet `n smaak daarvoor ontwikkel. Mag Christene se voorbeeld die wêreld lus maak en help om `n smaak hiervoorvoor te ontwikkel.