{ARGIEF}

As Laurika Rauch vandag haar bekende Hotgates-liedjie moes sing, het sy dalk oorweeg om die name Marikana, De Doorns en Sasolburg by te voeg. Analises oor wat tans in die land aan die gang is, word oral gehoor. Mense verskil oor die oorsake en die oplossings vir die krisis. Waar jy vandaan kom, waar jy woon en met wie jy elke dag meng, beïnvloed jou daadwerklik. Die feit bly egter staan dat die gebeure van die laaste dae ons almal raak. Die vraag is waar dit vandaan kom en wat gedoen moet word. Mag ek waag, al sal sommige van my verskil, om my stuiwer in die armbeurs te gooi.
Eerstens het die kritiese massa hooplose, kwaad, ongeskoolde en soms waningeligte armes `n versadigingspunt bereik. Dit is mense wat niks het om te verloor nie en nie meer werklik omgee as die land in vlamme opgaan nie. Gelyklopend misluk die staat in kritiese areas. Onderwys, `n verantwoordelike en omvattende, volhoubare welsynsbeleid, swak bestuur en korrupsie is maar enkele voorbeelde. Derdens is ons op `n glybaan na morele bankrotskap. Instellings wat eens die pilare van ons samelewing gevorm het, is beleër en verbrokkel. Ons gesinne, en gebrek aan gesonde ouerskap, is `n enkele voorbeeld. Vierdens is daar `n gebrek aan vertroue. Min instellings word nog vertrou. Daar is `n skrikwekkende groei in wanpersepsies oor en misinterpretasie van mekaar en ons intensies. Dit verhoog rassespanning by die dag en word aangevuur uit alle oorde.
Wat sou die kerk in so `n kookpot kon doen? Die eerste is om te bid vir kalm, nugtere redelikheid, maar ook self die voorbeeld daarin te stel. Dit beteken dat ons sal poog om ingeligte uitsprake te maak, nie kant te kies nie, maar konstant die werklike feite op die tafel te help sit. Enige oorlogspraatjies moet ten sterkste veroordeel word. Diegene wat hul daaraan skuldig maak, weet nie regtig wat oorlog is nie.
Tweedens moet ons armoede beveg, maar net so ernstig oor rykdom praat en rykes aanmoedig om meer te deel. (Matt 19:16 ev) Die feite is dat ons, selfs met die verdubbeling van ons ekonomiese groeikoers en die beste modelle en planne, nie die massiewe armoede sal laat verdwyn nie. Die aarde het gewoon nie genoeg bronne daarvoor nie. Ons sal meer moet deel, anders gaan mense wat niks het om te verloor nie, dit gryp. Ek weet dit is pynlik vir rykes om dit te hoor en ek maak waarskynlik nie vriende as ek dit sê nie. Geniet jou luukses, maar deel meer.
Derdens sal ons harder moet werk. Ook die armes. Daar is te veel kinders wat nie erg aan onderwys het nie omdat `n nuwe waarde gevestig is: Daar is maniere, om met die regte konneksies, vinnig en maklik ryk te word wat niks met eerlike harde werk te doen het nie.
Mag ons almal harder werk en bid: werk asof ons nooit bid nie, maar bid asof ons nooit werk nie.