{ARGIEF}

Sedert Carlo Petrini in 1986 groot protes aangeteken het teen die oprigting van `n McDonalds-kitskos-restaurant op die Piazza di Spagna in Rome, het daar baie gebeur om aan die sogenaamde “Stadige Beweging” (Slow Movement) momentum te gee. Lank gaan dit nie meer oor net kos nie, maar eintlik oor `n hele leefstyl. Dit raak nou ook dinge soos tuine, ouerskap, reis, die kunste, finansies en die media. Jy sien, jy kan met `n getwiet vinnige, kort brokkies inligting die wêreld oor versprei, maar hoeveel diepgang kan jy daarmee bereik?
Carl Honoré, skrywer van In Praise of Slow, wys daarop dat `n samelewing wat te vinnig lewe en gedurig besig is om handelinge gelyktydig te probeer uitvoer, gedurig moeg is. Honoré stel dit duidelik dat hy nie teen produktiwiteit en spoed is nie. Hy is mal oor sy vinnige internet, bly in `n dinamiese Londen en speel graag ys-hokkie en muurbal. Hy het dit egter teen spoed wat die essensie van dinge by ons laat verbygaan. Hewlett Packard het onlangs gewaarsku dat die konstante onderbreking van jou fokus in die werkplek, byvoorbeeld deur vinnige e-posse wat vinnige reaksie vra, die IK-vlakke in die werkplek met tien punte kan laat daal!
In wese gaan die “Stadige Beweging” dus daaroor dat ons meer daarop moet fokus om werklik in die oomblik betrokke te wees. Dit gaan oor ware fokus. Sulke oomblikke bly in elk geval veel langer by jou. Dit raak die kos wat jy maak, die kinders wat jy grootmaak en die reis wat jy onderneem. Hoe het die Amerikaner nou weer by die Grand Canyon aan sy familie gesê: “Julle moet vinnig kyk. Ons kan na die prentjies op video by die huis gaan kyk!”
Dit bring my by God en die Woord. Kom ons sê dit sommer reguit. God kan nie ge-Google word nie. Ja, Google is fantasties. Ek gebruik dit baie en dit help my. Jy kan ook inligting oor God op die internet kry, maar God self kan nie ge-Google word nie. Enige verhouding vra tyd. Ook jou verhouding met God. God trek hom maklik terug van haastige gespreksgenote. Christus was waarskynlik `n waardige eksponent van `n stadiger leefstyl en ek sê dit met respek. Wanneer daar siekte was, het Hy sy tyd geneem om daar uit te kom. Die dringendheid van die oomblik het Hom nie aangejaag nie. Vir kinders en randfigure kon Hy tyd maak. Hy het meestal gestap of met `n bootjie gereis en so lees ons, `n enkele keer op `n donkie gery! Hy het beslis nie die vinnige perde en strydwaens van die Romeine gebruik nie.
Dit laat ons met ‘n les oor hoe ons ook met die Woord moet omgaan. Ek is bevrees dat ons in `n samelewing leef wat besig is om die ware positiewe impak, wat die Bybel op ons kan hê, te verloor, gewoon omdat ons te vinnig en te min daarmee omgaan. Hoe hanteer jy die werklikheid van komplekse Bybelvertalings, waar menslike foute soms insluip, die verskillende kulturele lense waarmee ons en die Bybelskrywers kyk en gekyk het, asook die werklikheid van komplekse literêre genres, simboliese taal en metafore, as jy haastig is? Voeg daarby dat die Woord van God nie maklik sonder `n intieme omgang met die Gees van God ontsluit word nie. Nee, God kan nie ge-Google word nie. Ek hou nogal van MacDonalds op sy tyd, maar `n kitskos-Christendom mag net ontdek dat die ware oomblik by hulle verbygaan.