{ARGIEF}

Vandag was `n woelige dag met baie kante. Ek het vroegoggend in die Karoo wakker geword. Watter voorreg. Was later in intense gesprekke in Bellville betrokke oor die armoede situasie in ons land en die rol wat die kerk daarin kan en moet speel. Toe na Kaapstad gejaag vir `n ontmoeting met provinsiale ministers oor dreigende xenofobie aanvalle en die dag afgesluit met `n musiekkonsert op Stellenbosch. Hmmm? Te veel? Te luuks? Te vinning?
Die gesprek oor vreemdelinge spook egter by my. Aan die een kant hoor ons die mooiste mooiste stories oor `n nuwe gees wat die sokker onder ons laat posvat het. `n Kollega vertel my dat `n taxi-bestuurder nou die dag by `n stopstraat oorleun en vir sy vrou sê: “Ai mevrou dis so lekker om so vriendelik met mekaar te kan praat, kan dit maar nie na die sokker so aangaan nie!” Daar is veel veel meer sulke stories.
Terselfdertyd het ek vanoggend met my eie oë die mense langs die N1 sien staan, opgepak om “huistoe” te gaan. Terloops, mag ons nooit op loop gaan met gerugte nie. Dan word dit later `n selfvervulde profesie.
Mag ons egter almal met `n gees van welwillendheid, liefde, aanvaarding en begrip na alle vreemdelinge kyk, nie net die “ordentlike” sokkertoeriste nie. Mag ons die skurke uitwys en aan die kaak stel, ook hulle wat hierdie broos situasie vir eie gewin wil uitbuit. Mag God ons liefde en fyn onderskeidingsvermoë gee. Gaan lees gerus weer Fil 1:9