{ARGIEF}

As ek oor my Sondae as kind dink, kom daar verskillende herinneringe by my op. Ek onthou my ma se hoender. Hoender was deftige kos en bedoel vir Sondag. Ek onthou die boksie Smarties wat ek by die Sondagskool gekry het omdat ek Ps. 23 kon opsê. Ek onthou Dominee se lang preke en die hoop wat in my opgevlam het as hy sagter begin praat het. Dan het ek gehoop dat die “amen” naby was, dikwels tot my teleurstelling. Hy het sulke mooi plekke gehad om by amen te sê, maar hulle dikwels verbygegaan. Ek onthou egter ook die raas wat ek en my broer gekry het, wanneer ons ons ouers wakker geraas het. Ek kon dit nie verstaan nie. Vir wat wil ’n mens nou op Sondagmiddag slaap? Van ’n Sabbatsrus het ek min verstaan.
Met die onlangse staking het ek op ’n snaakse manier weer daaraan begin dink. Dit was en is ’n komplekse staking met baie kante, reg en verkeerd. Die een ding wat egter by my bly spook, is die lot en toekoms van die werkersklas. Wat is hulle regte? Waarop kan hulle aanspraak maak en waarop nie? Waarvan ek seker is, is dat hulle ook kan aanspraak maak op menswaardigheid en veral dit wat God gedink het ons nodig het om heel en gesonde mense te wees. Ek het van vooraf weer oor Sondae begin dink, nie oor geld nie, maar oor rus.
In `n land met verskillende godsdienste is daar verskillende sieninge oor `n Rusdag, maar ek meen dat ons (Christene) in die debat oor Sondagviering die eintlike punt soms mis. Sondagviering gaan nie in die eerste plek oor reg of verkeerd nie. Christus wys ons die weg as Hy oor die sabbat praat. Die dag is vir ons! (Mark 2:27) Dit is ’n dag om te rus en ons siel te voed. Dit is ’n dag om asem te skep. Dit is wat die stamwoord vir “sabbat” eintlik beteken. Dit doen die rykes maklik. Hulle staan op en besluit dan of hulle wil kerk toe gaan, sommer net ’n lekker ontbyt saam met gesin of vriende geniet of wat ook al. Armes se keuses is veel minder. Hulle moet dikwels werk op die dag wat God bedoel het dat ons moet asem skep. Hulle moet werk sodat die rykes hul gemaklike lewe nog gemakliker kan voortsit.
Ek verstaan dalk te min van die ekonomie, maar wat ek wel vir ’n feit weet, is dat daar baie oorsese lande is waar die winkels op Sondae heelwat later oopmaak, dikwels eers smiddae. Dan kan almal ’n bietjie rus. Ek dink dat ’n gesonde ekonomie net volhoubaar kan wees as ons heel mense het. Nêrens het God gesê dat ons amper vir ’n jaar lank moet werk en dan vinnig vir ’n week of wat moet rus nie. Nee, dieselfde ritme wat ons oral in die skepping vind, in asemhaling, dae en nagte, seisoene en veel meer, vind ons in die opdrag om ses dae te werk en dan te rus. God weet wat vir ons goed is, want Hy het ons gemaak, maar dit geld ook vir die minder welvarendes, wat met minder keuses moet klaarkom.
’n Ware sabbat vra natuurlik veel meer as niks doen. Dit vra dat jy jou siel sal voed, maar wat daarvan as ons begin deur almal een dag `n week regtig te staak, op so `n manier, dat ander ook kan rus.