{ARGIEF}

‘n Vriend sit vanoggend stywerug saam koffiedrink. “Al vir 10 dae hierdie seer rug. Kan nie eens my kop omdraai om te kyk waarheen jy beduie nie.”  Ek simpatiseer. Maar dit het my help dink oor leiers wat in pyn verkeer.

“No pain, no gain” is nie die gunstigse sêding om te hoor as jy pyn ervaar nie. Ons is mos nie masochiste nie. Dis natuurlik aan ons aard om eerder plesier te soek. Daarom moet jy aanvaar mense gaan weerstand teen groei en verandering bied gewoon omdat hulle die vrees vir moontlike pyn wil vermy.

Pyn is ‘n verlieservaring. Daarom het ons nodig om te kyk watter verlies ons ervaar. Dit mag die verlies van ‘n bepaalde posisie wees, die verlies aan sekuriteit omdat ons na ‘n nuwe uitdaging beweeg, die verlies aan erkenning en resultate omdat dinge nog nie is waar jy gehoop het dit sou vorder nie, die verlies aan die goeie guns van mense wat jy gereken het saam met jou die pad sou loop.

As jy pyn ervaar, is dit ook natuurlik om te veg, vlug, of vries. Moenie jou pynervaring ignoreer nie, maar probeer agterkom hoekom dit werklik so seer is. Wees blatant eerlik met jouself. Dan kan jy eers verder groei.

Bill Hybels het by ‘n kursus vertel van Popeye, die bekende strokieskarakter, wat by geleentheid gesê het in sy eienaardige Engels:

I can stands it no more!

Wanneer leierskap kom by die ingrypende pyn van “Ek kan dit nie meer vat nie”, word die pyn opgetel soos ‘n kruis in die hoop van verlossende vernuwing.

Geestelike leiers sal altyd die pyn van weerstand asook aanvalle vanaf die enorme boosheid ervaar. Dis in hierdie realiteit waarin geestelike leierskap deur die smeltkroes gaan en jou geloof, hoop en liefde tot die uiterste beproef word.

Terwyl ek skryf, bel ‘n vriend en ek vra sommer: Wat dink jy moet ‘n leier doen om die pyn van leierskap te hanteer? Sy wysheid: “Kry vir jou buddies! (Dankie Johan Mocke!)

Jesus verreken die pyn van leierskap as Hy sy volgelinge herinner: “Hy wat nie sy kruis opneem en My volgnie, is nie werd om aan My te behoort nie” (Matt 10:38). Die diepte van jou leierskap word gemeet aan jou selfdissipline om die kruiskant van leierskap op te neem.

Leiers sal vanjaar vanuit hulle diepste kern deur die Gees die pyn van dissipline moet opneem om getrou te bly. Soos Jesus. En in Jesus.

Is jy geestelik en in jou verhoudings sterk genoeg om die pyn van groei te vat?