{ARGIEF}

Ek sit die week saam met ‘n leiersgroep van ‘n baie tradisionele gemeente.  Hulle het behoefte aan ‘n proses en vertel een na die ander van probleme wat hulle ondervind met hulle stoere lidmate en hulle onvermoë om die lidmate se koppe en harte oor die kerk te verander. In hulle oë sien ek die vrees wat ek so dikwels gewaar onder gemeenteleiers wat weet hulle moet ‘n ding doen, maar diep in hulle harte onseker is of hulle dit gaan regkry.

Naby die einde van die gesprek, vertel hulle terloops hoedat ‘n sopkombuis vir straatmense in die middedorp waar hulle kerk geleë is, gegroei het na ‘n aand erediens waar tot 60 van die straatmense elke Sondagaand kerk toe kom.  “Hoe het dit gebeur?” vra ek.  “Wel ons weet nie eintlik nie; dit het maar so gegroei van die een ding na die ander; ons het dit nie eintlik beplan nie.”

Oombliklik weet ek, hier is die spore van die Gees se werk, besig om ‘n alternatiewe storie te skryf, so onverwags en uit ” plek” uit dat ons dit byna nie raaksien nie, en, waarskynlik omdat ons dit nie beplan het nie, geneig om dit mis te kyk.

Ek vra so ‘n bietjie meer in hieroor en stadig ontvou ‘n alternatiewe storie wat die Gees besig is om in hulle gemeente te skryf.

Ek het geleer: dít is die eintlik goed waarmee gemeenteleiers hulle moet besig hou, nie hulle eie planne nie, nie hulle eie agendas nie, maar met ‘n nuuskierigheid oor waar en hoe die Gees nou besig is om ‘n alternatiewe storie te skryf.

Ruil ons nie ons agendas daarvoor in nie, het ek van myself geleer. Beland ons nie te dikwels by ‘n te vol program besig om dinge te dryf waarin daar nie energie is nie – selfs al is dit die regte goed?

Ek wonder hoeveel dinamika gee die Gees tans in jou gemeente, maar omdat dit dalk nie op julle Kerkraad se agenda is nie, sien julle dit nie raak nie en kan julle ook daarom nie die gemeente daarmee in lyn bring nie.  Ek weet dit gebeur dikwels met my!