{ARGIEF}

Daar het onlangs ‘n baie belangrike boek van Pat Keifert(red) die lig gesien:  Testing the Spirits: How Theology Informs the Study of Congregations (Eerdmans 2009).  In die eerste twee artikels van die boek bespreek gee Pat ‘n roetekaart van hoe daar oor gemeentes navorsing gedoen kan word oor gemeentes waar daar kennis geneem word van Sosiaal Wetenskaplike navorsing oor gemeentes- sien elders op die webblad bv die artikel oor The Pew Forum oor hoe mense in die VSA godsdienstig affilieer- maar vanuit ‘n teologiese intensie, of sommer net as teoloe.  Ek beskou dit as ‘n boek wat in die toekoms nog as ‘n keerpunt gesien kan word in gemeentestudies en verwelkom die boek met ope arms.

Vir baie lank is navorsing oor gemeentes- veral uit die VSA maar dikwels ook hier plaaslik, gedomineer deur navorsing wat sosioloe, demograwe en ander sosiaal wetenskapliks.  Ek het nie met hulle ‘n appeltjie te skil nie, inteendeel wat hulle doen is uiters belangrik om ons te help om die empiriese kerk in haar kompleksiteit te verstaan.  My bekommernis is wat ons as teoloe en gemeenteleiers hiermee maak en hoe ons die voorveronderstellings van die soort navorsing soms geluidloos aanbied as teologie.

Hoeveel keer het ek al geluister na verslae op verslae van ‘n groeiende of krimpende kerk, die jeug wat die kerk verlaat, voorspellings en tendense. Byna nooit het ek in die debat daaroor gehoor dat daar na God verwys word nie.  Aan die een kant bely ons(ek sluit myself hierby in) dat die kerk aan die Here behoort, deur Hom versamel word (lees gerus weer  Belahr se eerste artikel), en deur God geroep en gestuur word (missionale teologie) en uiteindelik deur God drie-enig instand gehou word.  Dat wat ons sien en beleef eintlik lewe is binne die kragveld van die Gees ( Coenie Burger) en dat God die agent is wat Missio Dei die inisiatief neem en ons nooi om deel te neem aan God se sending in die wereld (Bosch ea). Maar wanneer ons na die data oor die kerk kyk, is dit asof ons deel neem aan ‘n ander debat met ander voorveronderstellings werk wat nie met ons teologie in gesprek kan kom nie.

Pat Keifert pleit vir die teendeel.  Hy is van oordeel dat dit nie net belangrik is nie maar dat daar ook maniere is om dit te doen en brei saam met sy kollega’s van Luther Seminarie in St Paul Minnesota uit oor hoe hulle geleer het daar met leerstelinigs, die tradisie van die kerk, die lees van die Bybel ens in gesprek getree kan word die sosiaal wetenskaplike feite van en oor gemeentes.

Hy staan in die tradisie van H Richard Niebuhr, die gereformeerde teoloog van die VSA wat deur baie beskou word as die vader- of ten minste ‘n pionier- van/vir godsdiens sosiologiese navorsing in die VSA. In die dertiger jare publiseer hy ‘n baie invloedryke boek Social sources for Denominasialism.  Hy ontvang baie akklemasie daarvoor, maar skryf in sy volgende boek, The Kingdom of God in America, dat hy later baie ongemaklik was met wat hy in Social sources geskryf het. Want sien, se hy, my sosiale teorie oor gemeentes sou nie die Dawid’s en die Jeremia’s en natuurlik veral nie vir Jesus van Nasaret kon beskryf nie. ‘n Lyn wat hy later in sy wonderlike boek The Meaning of Revelation verder sou neem.

Waaroor Niebuhr dit het is dat daar ‘n punt kom wanneer ons sosiale teorie, of eintlik kan om maar enige van die voorveronderstellings warmee ons leef hieronder plaas, die lewe so volledig beskryf dat daar by ons nie meer ruimte is om verras te word nie.  Kortweg nie meer ruimte is vir God se teenwoordigheid nie.  Dit is nie alleen ‘n werklikhied vir navorsers oor gemeentes nie, maar vir elke gemeenteleier wat met ‘n begroting sit, oor die toekoms van die gemeente moet besluit. Van ons almal is dit waar dat daar ‘n punt kan kom waar ons vertrekpunte God eenvoudig uitsluit. Ons verbeelding word ‘n geslote verbeelding waarin net dit wat ons empiries kan waarneem, werklikheid is.  Daarop bou ons dan ons beskouing van die lewe en voorspel ons die toekoms. Vir die voortgaande werk en lewende teenwoordigheid van God in ons wereld, is daar dan nie meer plek nie- die sg Deistiese wereldbeskouing.  Hierdie gevaar, wat Niebuhr in homself raakgesien het loop soos ‘n lyn dwarsdeur die kerk van die kleinstte kommissie in die platteland tot die mees geleerde raad van teoloe en ons moet dit almal in onsself raaksien.

Niebuhr sou later sy boek oor etiek , The Responsible Self, skryf dat ons die lewe moet verstaan as ‘n respons op wie God is en wat God doen in ons lewe. Ons eerste taak is nie om te gehoorsaam nie ( die sg gehoorsamheidsetiek) waarsku hy, ook nie om op ons eie bekwaamhied staat te maak om God se werk te doen nie ( die aktivistiese agenda), maar om ( my woorde) te onderskei in die geloof oor wie God is en hoe die openbaring van God in ons lewe waarneembaar is.  Dit is ons belangrikste taak, vlg Nieburh, en eintlik die enigste vertrek punt wat ons kan neem.

Toegepas op nadenke oor gemeentes. Ons kan baie leer by die sosiaal wetenskaplikse en ons het ook die verantwoordelikheid om vrae oor God in die gesprek te bring. Kom ek probeer ‘n paar!

  • Ek het al baie gewonder as hulle bv ‘n verslag moes uitbring oor die eerste gemeente in Jerusalem, of enige van die gemeentes van die eerste eeu, of enige van die sosiaal wetenskaplike lense ons sou kon help om te voorspel wat uiteindelik sou gebeur?  Wat maak hulle- en ons- navorsing en voorspellings meer in die kol vandag?
  • Die meeste van hierdie navorsing neem hulle vertrekpunt in lidmaattalle en kerkbywondingsyfers. Is dit werklik die belangrikste kenmerk van gemeentes dat hulle mense op ‘n lidmaatregister het en eredienste hou waarheen mense kom?  Wat van die ander gestaltes van die gemeente om hulle roeping in die daaglikse lewe uit te leef.  Is dit nie tot ‘n baie groot mate belangriker as die getalle op die boek nie? ( ek moet toegee dat mense soos Nancy Ammermann hieroor uitstekende navorsing gedoen het in oa Pillars of Faith)
  • Tot watter mate is baie navorsing oor gemeentes se uitgangspunt eintlik nog steeds wat Bosch en Newbigin sal beskryf as binne ‘n christendom paradigma, nl dat die kerk in wese ‘n plek is waarheen mense genooi word om te affilieer en om mee te doen aan die instandhouding van die kerk?  Die meer eietydse vorm hiervan is die attractional model. Hoe sou dit anders wees indien ons die Missio Dei teologie toepas en begin vra na God se aktiewe teenwoordigheid binne maar ook buite die gemeente.
  • Wanneer daar na die doen en late van die gemeente gekyk word- haar prefomance- wil dit vir my lyk of ons eintlik maar baie van die ekonomiese en ander bate-analises oorneem om die potensiaal van die gemeente te beskryf. Hoe sou dit lyk as ons in die lyn van Coenie Burger se denke oor gemeentes, begin om dit te beskryf as ‘n beweging binne die kargveld van die Gees?