{ARGIEF}

In Bloemfontein was die oorkoepelende tema Jesus en die mall, en my opdrag was om iets oor Die mening van die mall te gaan sê. Dit was ‘n lekker uitdaging, want die mall was so ‘n lekker metafoor wat ek kon uitbou en waardeur ek my gedagtes kon oordra.

Hierdie slag is dit moeiliker. Die tema wat ek gekry het, is Wat moet die kerk ophou doen? Wat moet die kerk anders doen? Wat moet die kerk NOU doen?

Die eerste ding wat ek gewonder het, is wat word bedoel met die term “kerk”? Is dit die breë Christendom, van die Ortodokse tot die Sioniste, van die Katolieke tot die Charismate? Of is die die NG Kerk? En as dit die NG Kerk is, is dit die sinodale strukture? Is dit dalk spesifiek die algemene diensgroep vir gemeenteontwikkeling, of is dit die gemeentes? Is dit die dominees, of is dit die lidmate?

Maar omdat André vir my gesê het “Kom splash net jou hart oor die kerk”, het ek besluit ek kan dit seker interpreteer soos ek wil. So, verdra my asseblief daarvoor. Ek hoop julle vind in die resultaat iets wat julle kan help.

Ek het baie gewonder oor ‘n teksvers vir my preek. Ek het gedink aan die titel van Jean Goosen se boek “Ons is nie almal so nie”, dalk ‘n bietjie gewysig tot “Ons is nie almal eenders nie”. Ek het gewonder oor die leuse onder ons nuwe landswapen “!ke e: /xarra //ke” (diverse mense verenig). Ek het selfs gedink aan iets uit die Bybel, miskien daardie teks waar die Here Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings”.

Miskien lê die kern van wat ek wil sê iewers tussen hierdie gedagtes.

Ek wil begin met ‘n persoonlike getuienis oor my belewenis van die lappieskombers wat die kerk van Christus in hierdie wêreld is.

Want dit is dalk die een voordeel wat ek bo die meeste NG dominees het. Ek het ‘n wye perspektief oor die kerk. As verslaggewer oor kerksake, kom ek in aanraking met ‘n wye spektrum van kerke en kerkmense. Ek dink ek sien meer gesigte van die Christendom as die gemiddelde dominee of priester of pastoor wat in een denominasie werk.

Ek het vroeër vanjaar in Midrand byvoorbeeld drie uur lank op my voete gestaan tydens die Russies Ortodokse Kerk se middernag-paasdiens. En die troste vader Ioann Lapidus van dié kerk het vroeër vir my uitvoerig verduidelik hoe ikone in hul kerk werk.

‘n Paar jaar tevore was ek die Paasnaweek op Moria waar ‘n stuk of 3 miljoen lidmate van die ZCC saamgetrek het. Ek kon iets beleef van hoe hulle hul godsdiens beleef en ek kon luister hoe biskop Barnabas Lekganyane vir sy mense preek.

Hoeveel keer het ek nou al in die sinodes en ander vergaderings van die Gereformeerde Kerke gesit en geluister hoe hulle die Skrif probeer uitpluis om te bepaal presies wat het God bedoel. Soos een dominee gesê het: “Ons wil nougeset gehoorsaam wees aan die Woord van God.”

Aan die ander kant kon ek luister hoe die Hervormers, met hul baie ruimer Skrifbeskouing, soms op ‘n ongelooflik indrukwekkende wyse teologiseer oor groot kwessies.

Ek kon by Vader Bonaventure Hinwood sit en luister hoe hy verduidelik hoe sien hulle in die Rooms-Katolieke Kerk die gemeenskap van die heiliges. Dit het vir my ‘n ander prentjie van die Katolieke oopgemaak as dit wat ek in my kategese geleer het.

Saam met 60 000 mans het ek ‘n week lank op Angus Buchan se plaas gebly, geluister hoe preek hy, en by herhaling gesing: “Hef jou hande na bo, sing halleluja . . .”

In Lynwood se NG Kerk het ek Adoramusdienste leer ken waar ‘n mens vir 8 minute lank in stilte in die teenwoordigheid van God sit.

Ek het Nkosi Sikelel’ iAfrika saam met ‘n sinode van die NG Kerk in Afrika as ‘n gebed tot die almagtige God gesing lank voordat dronk rugbytoeskouers ‘n verwronge weergawe daarvan voor toetswedstryde uitgeblêr het.

Saam met duisende moderne swart mense van Soweto kon ek nou die dag luister hoe die charismatiese biskop TD Jakes van Amerika vir hulle ‘n boodskap van hoop bring.

Ek kon ‘n slag by die AGS luister hoe iemand uit die bloute in vreemde tale begin praat – en sien hoe hulle as kerk dié verskynsel hanteer.

Ek het ‘n week lank saam met ds. Jannie Pelser by TB Joshua in Nigerië bestee waar Goddelike genesing die hoofitem op die spyskaart was.

Ek kon luister hoe die Metodistekerk in Suid-Afrika op hul weergawe van ‘n algemene sinode worstel met die kwessie van homoseksualiteit.

Ek kon oor die jare verskeie gesprekke met leiers van die NG Sendingkerk en later die VGK voer waarin ek kon hoor hoe diep hul oortuigings oor die belydenis van Belhar lê.

Toe die Wêreldraad van Kerke se Sentrale komitee ‘n slag hier in Midrand vergader het, kon ek hul vergadering bywoon en sien hoe ‘n wyd, uiteenlopende verskeidenheid van kerkmense saamwerk – van die Koptiese pous wat agt jaar lank in ‘n grot gesit het, tot die Metodistebiskop wat die aand tydens die patytjie in sy pers jas een van die voordansers was.

Ek sou lank op hierdie manier kon aangaan. Maar hoekom vertel ek dit vir julle? Omdat ek hieruit ‘n baie belangrike les oor die Christendom en sy vele gesigte geleer het.

In elkeen van dié wyd uiteenlopende kerke en strome en tradisies het ek mense teegekom wat my beïndruk het as opregte gelowiges. Oor elkeen van die kleure van die lappieskombers kon ek vir myself sê: “Hier is iets wat ons by hulle kan leer”. Maar ook: “Hier is iets wat ek liewer nie soos hulle wil doen nie.

Elke variasie van die Christendom, so lyk dit my, het sy sterkpunte en sy swakpunte, ook ons eie. Ek sou wou he dat die kerk, in al sy gestaltes, ‘n oog hiervoor moet ontwikkel.

Dus:

– Die kerk moet ophou om (waar hy dit nog doen) oor homself te dink as een homogene groep.

– Die kerk moet baie meer maak van die diversiteit in sy eie geledere, deur die sterk punte van elke stroom uit te bou en mekaar te help as dit by die swak punte kom.

– Die NG Kerk moet NOU ’n strategie ontwikkel om sy lidmate te help om diversiteit te waardeer.

Hierdie boodskap het sy toepassing op verskeie plekke wat die afgelope tyd in die nuus was. Dink maar aan die geval van Angus Buchan en sy massa-saamtrekke – en die debat wat ontstaan het oor of dié verskynsel ‘n goeie ding is of nie.

In Bloemfontein, toe ek or die mening van die mall moes praat, het ek dit getipeer as ‘n kitskosplek in die mall: Angus Buchan Fast Foods.

Voor iemand my verkeerd verstaan, het ek gesê, ek bedoel dit glad nie of op enige manier neerhalend nie. Dis ‘n plek waar honger mense kos kry, en soos ons die afgelope tyd gesien het, mense stroom daarheen.

Wat sê die verskynsel vir ons?

Vir my lyk dit of die groot boodskap wat ‘n institusionele kerk soos die NG Kerk moet raaksien, is dat daar by duisende mense ‘n geweldige honger is na ‘n deurleefde evangelie – en dat dié honger klaarblyklik nie hul kerke gestil word nie.

Ek dink daar is ‘n paar redes daarvoor. Die een is dat ‘n getuienis dikwels, gewoonlik, ek wil amper sê altyd, sterker is as ‘n preek. Dis immers een ding as ‘n dominee op die kansel staan en vertel hoe Abraham of Jakob of Josef ‘n ontmoeting met God gehad het.

Dis iets anders as ‘n mens van vlees en bloed, iemand wat jy dalk ken of van wie jy ten minste weet, iemand wat in dieselfde tyd en dieselfde wêreld as jy woon, opstaan en vertel hoe hy of sy ‘n ervaring met God gehad het.

Ons tradisie, die gereformeerde tradisie, maak nie eintlik voorsiening vir getuienisse nie. Ons eredienste wentel om ‘n preek, wat dikwels vertel hoe dinge behoort te wees, maar nie regtig hoe dinge is nie. Getuienisse gaan oor iets wat regtig was.

Daar is ‘n ander leemte in ons tradisie wat hiermee verband hou en dit gaan oor die posisie van ons dominees. Ek kry hulle dikwels jammer. Ek dink nie dis hulle skuld nie en dis natuurlik ook nie met almal in dieselfde mate die geval nie, maar die opset waarin ons dominees werk, bring mee dat hulle in ‘n meerdere of mindere mate wêreldvreemd is.

Hulle is kenners van die teks, maar die konteks waarin lidmate leef en moet oorleef, is iets wat hulle nie self ervaar nie. Hulle ken die moeilikhede van die daaglikse lewe, veral die daaglikse beroepslewe, dikwels nie so goed soos die lidmate dit ken nie.

En hierin is Angus Buchan anders. By hom hoor lidmate, en veral boere, nie in die eerste plek teologie nie. Hulle hoor stories uit die lewe van ‘n boer. Hulle hoor nie eeue-oue dogma oor ‘n God nie, hulle hoor verhale van die magtige dade van ‘n lewende God in die hier en die nou van ‘n wêreld vol moeilikheid. En dit gryp hulle aan. Hulle is honger daarvoor en daarom stroom hulle soontoe.

‘n Derde aspek van Angus Buchan se bediening wat mense trek, is die eenvoud van die boodskap.

Eenvoud is die sterkpunt en die swakpunt van enige kitskosplek. Met sy elf kruie en speserye het die kolonel van Kentucky ‘n trefferresep ontwikkel. En oom Angus, soos baie mense hom noem, het ook sy lysie van kruie en speserye waarmee hy sy boodskap geur gee.

Goed soos die uitroep: “Good people don’t go to heaven, believers go to heaven.” Mense hou daarvan.

Maar soos met die kolonel se hoender, waarvan ek ‘n groot aanhanger is, kan ‘n mens nie net dit eet nie. Is daar iewers ‘n teksvers wat sê: “ ‘n Mens sal nie van kitskos alleen leef nie”?

So wat staan die kerk te doen? Ek dink nie die kerk moet met Angus Buchan probeer meeding nie. Hy is nie kompetisie vir die
kerk nie. Hy is ‘n bondgenoot.

Om terme te gebruik wat ek by ‘n vriend van my uit die bemarkingswetenskappe gehoor het: Angus Buchan is net ‘n ander distribusiekanaal vir dieselfde produk as wat die kerk bemark: voedsel vir die siel.

Wat die kerk wel kan doen, is om Buchan se boodskap aan te vul, om ‘n bietjie nuanses by die spyskaart by te voeg, groente en vrugte as julle wil.

Die kerk kan help om die prentjie wat Angus vir mense in buitelyne teken, vollediger te maak.

‘n Ander ding van kitskos is natuurlik dat dit ongesond kan wees. My vrou is byvoorbeeld bekommerd dat die olie van die kolonel se hoender my cholestrolvlakke nog verder kan opjaag.

Net so kan ‘n mens kyk of daar ongesonde elemente in die boodskap is wat Buchan preek. Ek wil net twee goed ter oorweging noem.

Die taal waarin Buchan oor die huwelik praat, oor die man wat die hoof van die huis is, kan vatbaar wees vir ‘n slegte interpretasie. Veral by vroueteoloë hoor ek dat baie vrouens ly onder mans wat hulle juis op sulke taal beroep.

Ek dink Buchan is taamlik duidelik daaroor dat dit nie sy boodskap is nie, maar kerke kan hul lidmate dalk help om te dink oor die taal wat hulle gebruik as hulle oor die huwelik praat.

Die tweede aspek van Buchan se boodskap waar die kerk dalk mense kan help om meer genuanseerd te dink, is oor wonderwerke. Vir Buchan is God die Wonderwerker. Hy het dit in sy lewe beleef en hy preek dit in reguit taal.

God se wonderwerke is natuurlik ‘n moeilike saak om teologies te hanteer. Mense verval so maklik in uiterste standpunte. Aan die een kant dink party dis nonsens. Dit gebeur nie meer in ons dag nie. Ek sou nie graag daardie pad wou stap nie.

Aan die ander kant is daar egter mense wat as’t ware wonderwerke van God wil afdwing, wat wil glo dat God wonderwerke op aanvraag gee, amper soos daardie masjien in ons kantoor wat iemand ‘n blikgriek gedoop het: Jy gooi jou paar rand in ‘n gleufie, druk die regte knoppie en hy spoeg vir jou ‘n koeldrank uit.

Ek dink daar is ‘n gevaar dat mense wat na Buchan luister, so oor wonderwerke kan begin dink. Ek dink die kerk kan hulle help tot ‘n meer genuanseerde siening van ‘n moeilike saak.

Ek kan verstaan dat mense soos Lina Spies en James Kirkpatrick, wat krities geskryf het oor die Buchan-verskynsel, ongemaklik voel daarin. Self is ek ook nie heeltemal tuis daar nie. Op my eie geloofsreis is ek op ‘n ander punt. Ek het nou ‘n ander geestelike aptyt as waarvoor Buchan se spyskaart voorsiening maak.

En ek kan dink dat dit vir Spies en Kirkpatrick baie ander mense ook so is. Hulle kom ‘n lang pad met die Christelike tradisie. Hulle is fyn denkers vir wie die eenvoud van die boodskap ‘n oorvereenvoudiging met ‘n klomp slaggate daarin geword het. In ‘n sekere sin is hulle reg, maar in ‘n belangrike sin ook nie.

Want daar is baie mense wat nou op hul geestelike reis daar is waar hulle vir Angus Buchan nodig het. Ek het getuienisse van mans gehoor wat soos die verlore seun van die varke af teruggekom het na die huis van hul Vader toe – omdat hulle die stem van God in Angus Buchan se boodskap gehoor het.

Dus:

– Diegene in die kerk wat ongemaklik voel oor die Angus Buchan-bediening, moet ophou met hul afbrekende kritiek.

– Hulle moet ‘n oog ontwikkel vir die positiewe punte in sy bediening en maniere vind om daarby aan te sluit en daarop voort te bou.

– Hulle moet hul lidmate help die slaggate te vermy wat Buchan se benadering moontlik teologies mag inhou.

Aan die ander kant van die kerklike spektrum was daar ‘n ander groep mense wat die afgelope jaar of drie skerp in die spervuur gestaan het. Dit was veral die NG Kerk se dosente aan die fakulteit teologie by Tukkies, maar ook ander mense wat dalk getipeer sou kon word as kritiese denkers in die teologie.

Maar voor ek meer hieroor sê, wil ek vir julle ‘n gedig lees.

Perd en donkie

Met ’n donkie gaan jy nie oorlog toe nie.

Eeue se krygers het pérd opgesaal

om glorie op die slagveld te gaan haal.

Vir ’n donkie sou jy diens kon vra:

om ’n kar te trek, ’n sak meel te dra . . .

Met ’n perd kan jy die slinksste vyand jag,

hom inhaal en oorweldig met brute krag.

Op ’n perd kon ’n heerser van weleer

sy meesterskap demonstreer.

Dáár sit die grote Alexander,

Nero, Napoleon en elke ander

vegtende vors: op die rug van sy ros.

Maar Jesus,

Jesus Christus,

Hý . . .

Hy het op ’n donkie gery.

Hoekom lees ek vir julle dié gedig? Want ek het dit geskryf na aanleiding van ‘n preek wat ek van Julian Müller gehoor het. As ek reg onthou was dit net omtrent die tyd toe Amerika Irak ingeval het en daar ‘n golf van entoesiasme oor dié oorlog teen Saddam Hoessein ook oor Suid-Afrikaners gespoel het. Julian was een van die profete wat kon raaksien en kon sê dat die voorbeeld wat ons in Jesus Christus het, tog anders is as dié van die Amerikaanse oorlogmasjien.

Dis dieselfde Julian wat een van die groot teikens geword het van die aanvalle teen die fakulteit en sy dosente.

Verskoon nou dat ek vir Julian so uitsonder. Dit gaan nie net oor hom nie. Hy verteenwoordig ‘n sekere stroom mense daarbuite. As ek dus oor hom praat, verstaan dat ek hom as simbool gebruik vir daardie stroom.

Nou wil ek dit tog sê dat ek nie presies is waar Julian is nie. Ek vind byvoorbeeld nie aanklank by die idee van ‘n panenteïstiese Godsbeeld nie.

Maar ons hoef nie almal te wees waar Julian is nie. Net soos ons nie almal hoef te wees waar Angus Buchan is nie. Immers, as almal in die liggaam van Christus oog was, waar sou die gehoor dan wees?

En daar is sommer nog ‘n teksversie waaraan ‘n mens hiedie preek sou kon ophang.

Wat ons moet raaksien is dat teoloë soos Julian Müller besig is om te worstel met kwessies wat vir die toekoms van die Christendom baie belangrik is.

Ons leef in ‘n baie baie moeilike tyd en daar is verskillende vertolkings daarvan. Party mense praat van die breuklyn tussen modernisme en postmodernisme. Dis ‘n lyn waarin ‘n hele beskawing se manier van verstaan besig is om te verander. By die Lentekonferensie in Pretoria het prof. Piet Naudé gepraat van die drie vlae van verligting wat hul loop oor eeue in Europa geneem het, maar wat in die afgelope dekade en ‘n half oor Suid-Afrika gespoel het.

Miskien sal filosowe oor ‘n eeu of wat op ons era kan terugkyk en met baie meer helderheid kan vertolk wat presies nou aan die gebeur is.

Wat vir my duidelik is, is dat daar wel in ons gemeenskappe ‘n groep mense is wat ernstige vrae het oor die Christendom. Nie omdat hulle die geloof wil versaak nie, maar omdat hulle nie die premoderne kloutjie van die Bybelse verhale by die modernistiese of postmoderne oor van hul lewensbeskouing kan uitbring nie. Die kerk moet sulke mense help om maniere te vind om hul geloof te behou.

Vir my lyk dit of mense soos Julian Müller presies dit probeer doen.

Of hulle altyd met goeie antwoorde vorendag kom? Ek weet nie. Die tyd sal moet leer. Miskien is dit nou die aangewese ding om (soos Gamaliël vir die Joodse raad aangeraai het) die saak sy loop te laat neem. “As dit mensewerk is, sal dit op niks uitloop nie. As dit van God af kom, sal niks dit kan keer nie.”

Wat ek dink ‘n baie slegte ding is om te doen, is om teoloë se motiewe te bevraagteken en hulle verdraaide vertolkings van hul eie woorde in die mond te lê. En daarvan het ons die afgelope tyd baie gesien.

As verslaggewer is dit dikwels my werk om standpunte van mense weer te gee waarmee ek nie saamstem nie. Dis ‘n moeilike ding, veral as jy self sterk gevoelens oor die saak het. Vir my is die toets altyd of daardie mens wie se standpunt ek weerspieël, hom
self in my berig gaan herken. As ek dit kan regkry, weet ek ek het in my doel geslaag.

Wat ek die afgelope tyd meermale in die kerk gesien het, is dat kerkmense die dosente se standpunte op so ‘n manier weergee, dat die dosente hulself nie meer daaarin herken nie.

Die beste voorbeeld is seker Julan Müller se sogenaamde ontkenning van die liggaamlike opstanding van Jesus Christus.

My werk het my geslyp om fyn na mense te luister en ek het my ore gespits om te hoor of ek Julian dit ooit hoor sê het, maar ek het nie. Ek het sy boek oor die opstanding gelees, en ek het dit daarin ook nie gevind nie.

Dit lyk my na een van daardie leuens wat al soveel herhaal is, dat dit na die waarheid begin klink. Dit strek die kerk glad nie tot eer nie.

Daar is meer sulke voorbeelde – oor Jurie le Roux, oor Danie Veldsman en andere.

Wat is my boodskap?

– Mense in die kerk moet ophou met evangeliese inisiatiewe en dergelike aksies om kerklui wat ‘n bietjie anders as hulle dink en formuleer, verdag te maak.

– Kerkmense moet fyner na mekaar luister, en hul eie vertolkings van ander se standpunte aan daardie mense se eie vertolkings gaan toets voordat hulle daarmee op hol gaan.

– Die kerk moet sy mense leer dat die manier waarop hulle mekaar hanteer, waarskynlik belangriker is as om die korrekte formulerings vir leerstelings te vind.

Voor ek oorgaan na die derde punt van my preek, moet ek dalk hierby net nog ‘n beklemtoning plaas. Dit gaan vir my nie net oor die dosente en teoloë nie. Daar is ‘n groep lidmate (miskien nie genoeg dat 60 000 van hulle op ‘n naweek op ‘n plaas naby Greytown sal saamtrek nie, maar nietemin ‘n beduidende groep) wat rondloop met ‘n klomp teologiese vrae. In my bydrae in Bloemfontein oor die menings in die mall, het ek hulle getipeer as die ouens wat rondhang in Exclusive Books, daar by die rak met godsdienstige boeke. Jy sal hulle nie in Cum se boekwinkels kry nie. Hulle kritiese vrae word nie beantwoord deur die boeke wat daar verkoop word nie. Maar die feit dat hulle krities is, beteken nie dat hulle die geloof versaak nie. Inteendeel. Dis ouens wat na maniere soek om aan die geloof vas te hou. Die kerk moet hulle help. Die kerk moet hulle meer help as wat die kerk in die stadium doen. Die kerk moenie vir hulle net die antwoorde gee wat hulle in Cum se winkels kry nie. Miskien is dit glad nie antwoorde wat die kerk vir hulle moet gee nie. Miskien is dit net begrip, nabyheid, liefde. Die spreekwoordelike arm om die skouers.

En dit bring my die derde en dalk die dringendste punt van my preek. Dit gaan oor kerkeenheid.

Op geen, maar geen ander punt nie, is die NG Kerk en sy familie in so ’n haglike situasie as op dié punt nie. En dit alles, lyk my, omdat ons kerk oor geslagte heen afgewyk het van wat die Bybel oor die eenheid van gelowiges sê.

In ons eie gemeente het daar oor die loop van jare ‘n Afrikatale-bediening tot stand gekom. Daar het baie moeite ingegaan en Buti Mahlangu, die man wat die bediening behartig, word as deel van die leraarspan in ons gemeente gereken.

Maar nou onlangs kom dit uit dat die mense wat Sondagmiddae saam met Buti in ons gebou aanbid, wil skuif. Hulle wil nie langer by ons wees nie. Nou lyk dit of daar verskillende motiverings vir hierdie gevoel is, maar ten minste een belangrike faktor, so klink dit my, is dat hierdie swart gelowiges ongemaklik is om hulle met die NG Kerk te assosieer – klaarblyklik weens ons geskiedenis met apartheid.

Dis maar een voorbeeld van hoe die NG Kerk se geloofwaardigheid in gedrang is weens ons geskiedenis.

Dat die NG Kerk se verlede sleg is, dat die kerk as denominasie inderdaad skuld het aan apartheid, behoort nie in dispuut te wees nie. Een van die probleme is dat ‘n klomp lidmate dit klaarblyklik nog nie erken of aanvaar nie. Ek dink daar is ‘n klomp lidmate wat nog nie verstaan dat apartheid verkeerd was nie.

Dis een aspek waaraan die kerk se leierskapstrukture NOU moet begin aandag gee. Daar moet ‘n strategie bedink word om lidmate te help om die situasie in die land en in die kerke beter te verstaan.

Hoe? Dis een van die moeilike vrae. My indruk is dat baie mense moeg is daarvoor om skuldig te voel. En tradisioneel word daar in die kerk oor sulke kwessies in terme van skuld gepraat.

Miskien is dit nodig om die gesprek in ander taal te begin voer. Pleks van in terme van sonde en skuld en vergifnis, kan ‘n mens oor dieselfde soort goed praat in terme van seerkry en heling, in terme van gebrokenheid en genesing.

Dalk kan sulke taal dit vir lidmate makliker maak om die realiteit van die situasie te begryp en te aanvaar en te verwerk, as wanneer hulle dit uit die beskuldigdebank uit moet doen.

En as hulle dan skuld wil bytrek, kan ‘n mens soos Piet Naude sê die NG Kerk het sy skuld bely en daarom kan ons die vergifnis uit God se hand daarvoor aanvaar. Ons hoef nie in ‘n skuldkompleks oor die verlede te verval nie.

Maar ons moet ook leer uit die voorbeeld van Saggeus, wat toe hy besef het dat hy onreg gepleeg het, viervoudig gaan teruggee het. Dit lyk my ons as kerk behoort vier keer soveel energeie as wat ons bestee het aan die legitimering van apartheid, nou te bestee aan die herstel van verhoudinge.

Maar dis nie net die situasie in die land wat ons beter moet leer verstaan nie. Ons moet mekar ook beter leer verstaan.

Ek het al baie gewonder hoekom sukkel ons so met kerkeenheid. Hoekom het ‘n oënskynlik onskuldige ding soos ‘n groeteboodskap nou onlangs weer so ‘n groot herrie ontketen?

En dit lyk my dis omdat ons mekaar so sleg ken. As prof. Piet Strauss die VGK beter geken het, sou hy dalk beter kon antisipeer hoe hulle op sy boodskap sou reageer. Dan sou hy dalk anders gepraat het. En ‘n mens kan dikwels dieselfde goed op verskillende maniere sê. Jy kan dit op ‘n manier sê wat mense kwaad maak of jy kan dit op ‘n manier sê wat begrip kweek. Maar om te praat op ‘n manier dat jou teikengehoor jou gaan begryp, moet jy jou teikengehoor ken.

Die argument gaan natuurlik weerskante toe. Die VGK hoor ook vir Piet Strauss sleg omdat hulle hom nie goed ken nie. Die effek werk weerskante toe.

En dis ‘n bose spiraal. Hoe verder van mekaar ons is, hoe slegter hoor en verstaan ons mekaar. En hoe slegter ons mekaar hoor en verstaan, hoe verder dryf ons van mekaar.

En dis hartverskeurend, want ons het mekaar nodig. Dis nie net die VGK se arm gemeentes wat geldelike bystand uit die NG Kerk nodig het nie. Die NG Kerk het die VGK ook nodig. Ons het hulle nodig om ons te help om die wêreld om ons en om kwessies soos armoede beter te verstaan. Ons het hulle perspektiewe nodig.

Dis weer die beginsel van diversiteit wat hier ter sprake kom. Soos kerklike vergaderings slimmer is as hulle mans en vrouens in hul geledere het, as wanneer daar net mans of net vroue is, so word ‘n kerk sterker as hy verskillende kulture in hom opneem.

Dit lyk my dis dringend nodig dat die kerk op alle vlakke NOU pogings versterk om brûe na die ander familiekerke te bou, om vertroue te versterk, om verhoudings te bou.

Dit laat natuurlik nog een ander baie netelige kwessie om te hanteer, naamlik die belydenis van Belhar.

Ek kom al meer tot die gevolgtrekking dat die sleutelvraag wat hier gevra moet word, die volgende is: Wat is die evangelie?

Ek luister onlangs na ‘n radiogesprek oor kerkeenheid toe een van die inbellers vra: “Kan ons nie maar net die hele kwessie van kerkeenheid los sodat ons die evangelie kan verkondig nie?”

Toe vra ek vir myself: “Wat is die evangelie?”

In dieselfde debat sê prof. Piet Stauss dat belydenisskrifte handel oor die mens se verhouding met God, en dat die NG Kerk daarom nie die belydenis van Belhar as belydenisskrif wil erken nie.

Nou: die soort vraag wat die NG Kerk, op alle vlakke vir homself sal moet beantwoord, is of versoening tussen mense deel van die evangeli
e is. Raak dit my verhouding met God? Wat beteken die teks waarin Jesus Christus self sê: “As jy jou gawe na die altaar toe bring en as dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

As ek dit reg verstaan, dan beteken dit min of meer dat jou verhouding met God nie goed kan wees as jou verhoudings met die mense om jou sleg is nie. Dan beteken dit ook dat die herstel van die verhoudings, onlosmaaklik deel is van die blye boodskap van Jesus Christus.

Luister ek na die mense in die VGK, dan is dit vir my duidelik dat hulle meen die kwessies wat in Belhar aangeroer word ­ versoening, geregtigheid en eenheid ­ is wesenlik deel van die evangelie.

Ek dink hulle is reg, maar klaarblyklik is daar baie van die NG Kerk se lidmate wat nie so dink nie.

Daarom dink ek dat die NG Kerk ‘n groot, interne, teologiese gsprek nodig het ooor die vraag: Wat is die evangelie?

As ons uiteindelik tot die punt sou kom dat ons besluit versoening, geregtigheid en eenheid is nie wesenlik deel van die evangelie nie, dan moet ons dit op teologiese gronde kan sê.

Maar die VGK is reg as hulle sê hulle hoor in die stadium geen teologiese gronde waarom die NG Kerk Belhar nie wil aanvaar nie. Hulle hoor slegs politieke redes. Ek dink dis omdat die NG Kerk in die breë sy lidmate nog nooit gehelp het om regtig teologies oor Belhar te dink nie.

Hoe so ‘n grooot en wydlopende teologiese gesprek gereël gaan word weet ek nie. Of die kerk kan verseker dat dit in elke gemeente gevoer kan word, is ek nie seker nie, maaar dat dit moet gebeur en dat dit NOU moet gebeur, daarvan is ek oortuig.

Ek het nou, soos dit ten minste in ‘n stadium die gebruik was, drie hoofpunte behandel in my preek, dié oor Angus, oor Julian en oor eenheid. En dit alles eintlik om net een een groot punt te maak: dat die NG Kerk op alle vlakke meer ruimte moet maak vir verskeidenheid in sy midde.

Gun my nou net asseblief om my preek na die einde toe ‘n bietjie te laat uitrafel met nog ‘n klompie gedagtes oor die verskeidenhede wat ons in ons eie geledere kry en waarvoor ons moet ruimte maak.

Een van die belangrikste lesse wat ek in my loopbaan as kerksakeverslaggewer geleer het, het ek van Ferdi Clasen geleer. Dit gaan oor ‘n model vir verskillende soorte spiritualiteit. Op die vertikale as het jy denke aan die bokant en emosie aan die onderkant. Op die horisontale as het jy klem op openbaring aan die regterkant en klem op misterie aan die linkerkant. In die kombinasies van die verskillende asse vind jy dan vier verskillende soorte spiritualiteit in die vier kwadrante van die grafiek.

Daar is meer sulke modelle. In die Christelike Kernensiklopedie sien ek daar word in Ben du Toit se ontleding ses spiritualiteitsvorme ondeskei.

Hoe ook al, die belangrik om te verstaan dat dit nie hier oor reg en verkeerd gaan nie. Soos met die verskillende denominasies en tradisies waana ek aan die begin verwys het, kan ‘n mens waarskynlik in elke spiritualiteitstipe sterkpunte en swakpunte onderskei.

Een voorbeeld. Ná verlede jaar se superveertien-eindstryd wat Bryan Habana so mooi in die laaste minute vir die Bulle beklink het, spring Jaco van die Westhuysen op die dwarslat van die rugbypale met ‘n T-hemp wat sê: “Jesus is King”.

In al die polemieke en bespreking wat dit ontlok het, was die wysste woord wat ek gehoor het, dat dit nie Jaco se geloof is wat hom op die dwarslat laat klim het nie. Dit was sy persoonlikheid.

Die punt is dat daar in die Bulle se span ouens is wat net sulke oortuigde gelowiges soos Jaco is, maar wat hul geloof nooit so sou verkondig nie. Hulle het eenvoudig nie daardie soort spiritualiteit nie.

Wat belangrik is, is dat ons mense van die verskillende spiritualiteitstipes in ons kerk en in ons gemeentes het – en dat ons vir hulle moet ruimte maak.

‘n Ander soort diversiteit wat ons moet hanteer, is die generasies. Jong mense en ou mense beleef hul geloof eenvoudig verskillend, want hulle is verskillend.

Kom ek vertel julle een van my belewenisse. Radiokansel hou elke jaar ‘n jeuggospelfees onder die vaandel Godly Revolution. En elke jaar nooi hulle my om dit by te woon, want hulle wil graag publisiteit daarvoor hê.

Vir my is dit ‘n absolute marteling, want vir die meeste van die aand word daar (na my gevoel) die aakligste musiek gespeel. Ek het in ‘n stadium dit na junior kollegas met ‘n aptyt vir sulke geraas probeer aangee, ek het dit ‘n slag of wat net laat verbygaan, maar uiteindelik bly dit deel van my werk.

Gelukkig het ek ‘n ander manier gekry om dit te hanteer, en dit omdat ek ‘n geleentheid daarin gevind het om dit met my stokperdjie, fotografie, te kombineer.

Nou gaan ek daarheen met my kamera, ek maak my tuis vlak voor die verhoog en probeer interessante foto’s neem. My aandag is glad nie meer by die musiek nie.

Maar dit gee my ook ‘n ander hoek waaruit ek die aand beleef. Vanjaar was daar byvoorbeeld ‘n groep genaamd die Straatligkinders. Wat ‘n geraas. Ek kon geen woord uitmaak van wat hulle sing nie. Maar wat my opgeval het, is dat die honderde kinders wat voor die verhoog staan, elke woord saamsing. Hulle ken die lirieke.

Ek het later ‘n onderhoud met die Straatligkinders gaan doen en hulle vertel van die eposse wat hulle kry van mense wat vir hulle vertel hoe daar van hul liedjies se woorde is wat daardie ouens se lewens verander het.

Die Straatligkinders bring die evangelie op ‘n manier wat ek glad nie begryp nie, maar hulle bereik mense daardeur.

‘n Laaste woord oor diversiteit. As ek terugkyk op my eie geloofspad, dan is dit vir my duidelik hoedat ek my eie geloof in verskillnde stadiums op verskillende maniere beleef het.

Ek gebruik graag die beeld van my verhouding met my vrou om dit te beskryf. Toe ek vir Louise ontmoet het, was ek baie gou baie verlief. Dit was weke toe het ons van trou gepraat.

Dit was asof ek elke oomblik van die dag kon voel hoe kielie die wolkies waarop ek geloop het, my enkels. My kop het gedurig gedraai. Ek kon nie ophou om Cliff Richard se liedjie te sing nie: “When the girl in your arms, is the girl in your heart, then youve got everything. When your holding the dream, you’ve been dreaming you hold, then your rich as a king.”

Maar ons is getroud en in ‘n stadium het daardie gevoel van wolkies om my enkels verdwyn. My kop het ophou draai. Nie dat my liefde vir haar minder geword het nie. Inteendeel. Dit het versterk, verstewig. Dit het gegroei tot ‘n diep sekerheid wat soveel stabiliteit en rustigheid in my lewe bring. Miskien moet ek sê dat verliefdheid ryp geword het. Dat dit gegroei het tot liefde.

En op ‘n manier het dieselfde met my verhouding met God gebeur. Toe ek in my hoërskooljare ‘n verbintenis aan Hom gemaak het, was dit vir my wow! Maar daardie geestelike hoogtepunt, het ek geleer, bly nie.

Soos in my verhouding met my vrou, is daar steeds die besondere tye, maar ek verwag nie meer om permanent in ekstase te wees nie.

Wat daar wel nou is, is daardie diep sekerheid wat my deur die lewe dra.

En ek dink nie my belewenis is uniek nie. Ek dink baie mense beleef dit so. Maar ek vind soms dat kerkmense min begrip het daarvoor. Dis ‘n ander soort diversiteit waarvoor daar in gemeentes sensitiwiteit moet wees. Vir die ekstase van die pas bekeerdes, maar ook vir die stiller vreugde van diegene wat al lank op die pad is.

Ek is aan die einde van my preek. Ek gaan nie kollekte laat opneem op die seën uitspreek nie, maar ek hoop jule onthou die beeld van die kerk van Christus as een groot lappieskombers van verskillende kleure ­ en julle verstaan dat een lappie alleen ‘n mens nie kan warm hou nie.