{ARGIEF}

 

Gisteraand het ons toe met die boekie by een van ons huiskerkbyeenkomste afgeskop, en watter belewenis! My manier van leiers “oplei”, is om hulle gereeld bymekaar te kry, hulle dan toe te rus en dan vir die eerste byeenkoms vir hulle te wys hoe, en dat dit nie te moeilik is nie. Hulle mag dan ook vir my sê waar en hoe hulle dit beter sou gedoen het. Ek bevestig gewoonlik hulle raad.

Maar nou het die eerste van die groep self gesien dat dit nie so moeilik is met die boekie in die hand nie. Die meerderheid van die groep het gisteraand boekies gehad. En die wat nie gisteraand gehad het nie, het ek vanoggend by die kerkkantoor gesien om hulle bestellings te plaas. Maar, waarby ek wou uitkom is, dat ek gevoel het ek verloor totaal beheer. Die groep het ‘n uur en ‘n half gesels en na mekaar geluister en vir mekaar vertel waar en hoe hulle grense oorsteek, en waar hulle dit sommer vandag al gaan begin doen.

My eie emosies het gewissel van blydskap wat vir die klompie wil hande klap, tot diep dankbaarheid wat my hart aangryp. Ek het na die tyd huis toe gery en die Here gedank dat Hy beheer oorgeneem het, dat die mense Hom helder en duidelik kon hoor en dat hulle waarlik deur die Gees geïnspireer is tydens Pinkster en dan die hoogtepunt gisteraand met die “loodsing” van die Vrou by die Put. Na jare se probeer en probeer, lyk dit my of die Here nou self die Seisoen van Luister begin vestig hier in Lambertsbaai.

Snaaks hoeveel vertroue mense in die Here het, dat hulle self (op hulle eie) nie kans sien vir die grense nie, maar wanneer hulle tot die besef kom dat dit Hy is wat die grense oorsteek, en ons maar net saam met Hom neem, is dit asof daar ‘n rustigheid oor hulle kom en hulle ewe skielik daarvoor kans sien!
Sondagaand was so ‘n belewenis, dat die hartseer oor die Stormers heeltemal op die agtergrond verdwyn het. Ongelukkig kon ons niks regkry met die arrogansie van die Bulls-ondersteuners nie – maar ons sal hard werk aan daardie grense!
Die Here is besig om dit te doen wat Hy graag wil!