{ARGIEF}

Ek herinner my dat George Lindbeck in The Nature of Doctrine (Westminster Press , 1984)hom ook verwonder het aan hoe daar in die ekumeniese beweging oor dogmatiese verskille dae lank gedebateer kon word en die verskille oenskeinlik onoorbrugbaar blyk te wees- en dan vier hulle saam nagmaal en is dit asof die verskille skielik onbelangrik raak en die eenheid-die roeping van die ekumeniese beweging- weer lewend word. Of in die daardie wonderlike boek van Karen Blixen- Babbet’s Feast- waar die maaltyd die gemeente transformeer tot ‘n vrolike, vriendelike, toegeeflike en genadige gemeenskap waar daar amnestie is vir die foute wat ons maak- om die woorde van die generaal  Lorens Löwenhielm aan te haal. Of die Emmausgangers wie se oe nie oopgaan in Jerusalem nie, ook nie toe hulle geleer word uit die skrifte nie, maar hulle ‘n maaltyd geniet!

Hoe gebeur dit dat ons die Roeping wat ons van die Here ontvang het as kerk en gemeentes nie geleef kry nie?, wonder ek oor.  Ek weet ons kan nou praat oor gehoorsaamheid en toewyding maar ek dink nie dit het daarmee te make nie.  Ek wil dieper of anders kyk- ek dink ons sit in ‘n kerklike sisteem, instituut, wat onsself geskep het wat roeping nie kan dra nie, veral as die roeping begin om ons kultuur te verander.  Ons kan wel ander goed dra en laat oorleef, maar as ons roeping probeer dra, val dit uit ons hande! Ek dink dit is die ding ons neem die roeping in ons hande struktureer en prioriseer en strategeer en implementeer ons dit op so ‘n manier dat die wese van die Roeping verlore gaan.  Ons maak dit mak sodat dit inpas in ons ruimtes.

Ek weet nie of ek weet hoe om Roeping te dra nie, maar ek dink ek weet ten minste dat hoe ons dit tans doen nie werk nie. Ek het wel op plekke gesien dat gemeentes dit beter doen en ek sien by hulle oa die volgende:

  • iemand sit erens ‘n septer neer en buig voor die roeping-( ja buig ook die reels voor die roeping) mag  is dan nie meer gesetel in persone of posisies of reels nie maar in die Roeping self
  • ek merk dat hierdie mense baie meer toelaat die Bybelteks hulle vorm en sommer net dat hulle veel meer die Bybel lees- en toelaat dat die Bybel hulle lees, hulle wandel in die woord en be-oefen ander geloofsvormende gewoontes
  • ek merk dat hierdie mense ander begin leef- hulle gedrag verander teenoor mekaar en ander mense- die Roeping transformeer hulle eerste en dan begin ander hulle te volg
  • ek merk dat hulle baie meer praat oor die teenwoordigheid van die Gees, hulle verwonder hulle oor die avnotuur om die onvoorspelbare bewegings van die Gees op te merk.
  • hulle vertel gereeld stories as getuienisse van wat die Here besig is om te doen en
  • hulle is goeie luisterraars

Wat doen hulle minder?

  • hulle hou minder vergaderings maar kom bymekaar om by mekaar en die Gees te leer
  • hulle is minder besig en beslis minder angstig- moet dit nie verwar met gemaklik nie!
  • en natuurlik- hulle het minder reels

Dalk moet ek eerder vra hoe dra (vorm/transformeer/beinvloed…) die roeping ons?