{ARGIEF}

My pad kruis gister met ‘n predikant wat in Mosambiek werk. Sy opmerkings oor die Afrika kultuur waarin Hy die evangelie bring, het my weer laat dink oor my twee-gesprek met Roelf en ander oor die weerstand teen verandering. Ek dink daar is ook ‘n ander vorm van werstand wat nie in die eerste plek met transformasie te make het nie maar wel met die Evangelie.  Op ‘n vreemde manier is ek bevry toe ek hiervan ‘n paar maande gelede in Andrew F. Walls se

The Cross-Cultural Process in Christian  History (2005 Orbis Books) gelees het oor sy teorie van die vertaling van die evangelie in ‘n bepaalde kultuur.

In ‘n neutedop is Walls se argument die volgende:  Die evangelie wat verkondig word in ‘n bepaalde kultuur kan nie anders as om in daardie kultuur vertaal te word nie. Daar kan tog nie met die mense binne die bepaalde kultuur gekommunikeer word sonder om die boodskap van die evangelie in daardie bepaalde kultuur te “vertaal” nie.  Natuurlik beteken dit ook dat die kultuur op sy beurt weer die Evangelie vertaal. In ‘n bepaalde kultuur sal aspekte van die evangelie makliker begryp word, terwyl ander aspekte weer moeiliker ingang vind in die kultuur.  Sendingkundiges vertel dat daar soms eenvoudig nie woorde in ‘n bepaalde taal is om begrippe van die Bybel mee te vertaal nie.

Daar vind dus ‘n wydersydse vertaling van die Evangelie en die kultuur plaas. Verder se Walls op voetspoor van Newbigin, is daar natuurlik bepaalde kulture wat meer weerstandig is tot die evangelie as ander… en dan die sinnetjie wat ek lank an gekou het, van al die kulture wat aan hom bekend is, is die Westerse kultuur die mees weerstandige kultuur ten opsigte van die waardes van die Evangelie! Want sien, se Walls, ons moet verstaan dat Europa, die kontinent wat geboorte gegee het aan die Westerse kultuur soos wat ons dit vandag ken, het vir die Christendom gekies, maar nie noodwendig vir die Evangelie nie!

Ek het onmmiddelik besef hier steek groot waarheid in, ons sal in gemeentes baie mooi moet onderskei tussen die Evangelie en die kultuur waarbinne die Evangelie aan ons bekend geword het.  Watter een dra en beskerm ons nou eintlik ten diepste. Ons weet dat daar so maklik verwarring tussen die twee ontstaan.  Laat ek een voorbeeld noem, waarop ek baie graag julle kommentaar sal wil hoor.  Is die doel van groei en volwassewording in die Westerse kultuur nie eintlik maar om selfstandige en in-beheer mense te kwek nie. Die Evangelie aan die ander kant se:  Gelukkig(salig) is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Beheer, bemagtiging teenoor afhanklikheid en broosheid. Tog duidelik teenoorstaandes en as ek so om my kyk is dit vir my baie duidelik wat die Westerse kultuur ‘n meer vormende invloed in my gemeenskap se lewe gehad het as die Evangelie op hierdie punt. Ja natuurlik ook in my eie lewe.

Nou hoekom het ek bevry gevoel hierdeur.  Ek het dieper insig ontwikkel in die ‘valsheid” van die aanname dat die Westerse kultuur christelik is.  Dat ons mense, soos wat ons so maklik se, christelik is? kan dalk so wees, maar of hulle (en ek) gekies het vir die evangelie weet ek nie. Dit het my gehelp om ‘n gesonde suspisie te ontwikkel oor wat ons in gemeentes doen en verkondig.  Natuurlik is die Westerse kultuur beinvloed deur die Envagelie, maar die eintlike proses was en is andersom, dit is die Westerse kultuur wat die evangelie gebruik om haar kultuurdoelwitte te gebruik, en waar dit nie inpas nie, word die evangelie eenvoudig mak gemaak en gebuig totdat ons weer gemaklik daarmee is. Of soos watprof jonker altyd gese het, ook ons sou Christus uiteindelik gekruisig het!

Dit het my gehelp om meer onderskeidend te dink tov die heersende kultuur van die gemeenskap waarin ek leef en die Evangelie. En dit was bevrydend, want skielik het ek wer nuuskierig geraak oor wat die Evangelie dan werklk is, oor Jesus, oor na-volgingskap van Jesus, oor God, oor die einskappe van die Sy gemeenskap en sommer nog ‘n hele boel ander dinge.  As dit waar is dat die kultuur waarin ons (natuurlik nie net ons nie, maar almal wat in ‘n bepaalse ons leef) leef, ons blind en weerstandig maak tov soveel kante van die evangelie, le daar mos ‘n goudmyn van ontdekkings om te maak indien ons dapper genoeg is om te onderskei oor waarop dit werklik aankom.

‘n Volgende keer skryf ek oor Walls se idee dat ‘n gemeente net werklik hierdie onderskeidingswerk kan onderneem indien hulle oor die grens van hulle heersende kultuur bou aan gemeenskap.

Terloops ek sien Sharon- snaude@sun.ac.za  het nog ‘n paar kopie van Walls se boek in die boekwinkel- jy sal nie spyt wees nie.