{ARGIEF}

Coenie BurgerCoenie Burger

Communitas: Voortgesette Bedieningsontwikkeling en navorsing

My werk by Communitas is om te help beplan aan die VBO-program wat
jaarliks aangebied word en om studiegroepe oor Bedieningsprobleme of –
geleenthede te organiseer.

Ek het redelik vroeg in my bediening geweet dat ek graag met predikante
sal wil werk. Ek ken heelwat van die predikante in ons kerk (my 20 jaar
as studenteleraar het gehelp hiermee!) en ek kan regtig sê dat ek lief
is vir hulle en op `n manier in hulle glo!  Die predikante wat ons het
is van die beste gawes is wat die Here aan ons familie van NG Kerke
gegee het. 

Ek sou ook graag wou doen wat ek kan om predikante van ander kerke by
te staan. Min van die kerke het die bronne en geleenthede wat tot ons
beskikking is. Ek glo dat van die belangrikste opdragte aan ons kerk is
om hierdie gawes en geleenthede ook beskikbaar te maak vir ander.  Deur
die loop van my bediening het die Here my lewe al hoe dieper verknoop
aan die saak van die ekumene en die eenheid van sy kerk.  Ek glo dat
die variasie van mense, gawes en selfs teologiese insigte deel van die
rykdom van die geloof is en dat ons ons werk beter gaan verstaan en
doen as ons dit saam met ander kan doen.

Lees en dink, speel `n groot rol in my lewe.  Ek lees baie – feitlik
uitsluitlik teologie – en het die genade gekry dat dit nie vir my swaar
is of na werk voel nie. `n Vriend het my al gewaarsku dat dit mag
saamhang met sondige nuuskierigheid. Dit is seker so, maar ek wil graag
glo dat dit ook te doen het met `n begeerte om die evangelie beter te
verstaan en te dink oor hoe ons as kerk Christus beter kan dien en
volg. 

Ek was op skool nie juis aktief in die kerk en christelike verenigings
nie en het eers in my matriekjaar tot geloof gekom. Om Christus te
ontmoet en Hom te kon leer ken (al is dit maar gebrekkig) is steeds vir
my die wonderlikste ding wat in my lewe met my gebeur het.  Paulus se
wens in Fil 3:10 “dat hy Christus mag ken” het van my tweede jaar op
universiteit nog altyd in my lewe `n groot rol gespeel.

Die tweede groot genade in my lewe is my gesin. Ek is getroud met Lydia
(`n nooi van der Walt) wat betrokke is by Matie Gemeenskapsdiens en die
Here het vir ons drie wonderlike kinders (Ronelle, Rulof en Cobus)
gegee.

Tel 021 8083624

cwbu@sun.ac.za

Blog: www.communitas.co.za/nagedagtes