{ARGIEF}

As jy seker is dat jou kant “reg” is – dat jy ‘n verhouding met elkeen van jou kinders bou deur genoeg kwaliteit tyd saam met hulle deur te bring, met volle aandag  luister as hulle praat en  jouself in hulle skoene  plaas voordat jy reageer –  dan is jy gereed om te dissiplineer.

Begin deur kinders te help om te verstaan dat keuses wat hulle doen gevolge inhou. Voordat ‘n ouer dit kan doen, is dit nodig dat sy verstaan dat sy moet ophou om haar kind te beskerm teen die gevolge van sy optrede. Jannie, drie jaar oud, wil ‘n vol glas koeldrank hê en nie die halwe glas wat sy ma geskink het nie. Dit blyk dat hy nie alles kan behartig nie. Ma kan nou sê: “Sien, ek het geweet jy kan nie alles uitdrink nie. Nou mors jy dit.” Sy kan ook stilbly en die glas in die koelkas bêre. As Jannie later in die oggend ‘n koekie of ‘n piesang kom vra, haal sy die glas uit die koelkas en sê: “Jannie, jy het gevra vir ‘n vol glas en jy kan nie iets ander kry voordat jy dit uitgedrink het nie”. Sy gee nie maar ter wille van vrede die koekie as hy bitterlik begin huil nie.
Ma het ‘n ooreenkoms met Pieter en Elsa dat hulle alle los papiere uit die motor verwyder as hulle middae van die skool  af kom. Die oggend na die ooreenkoms gesluit is, is die motor egter alles behalwe skoongemaak. Ma kan sê: “Ek kan ook nooit op julle staat maak nie” en verwoed die motor begin skoonmaak. Sy het egter  stilgebly en voortgegaan met haar werk. Toe Pieter benoud skree: “Wat gaan aan? Ons gaan laat wees,” was Ma se respons: “Die motor is nie skoon nie.” Nog nooit vantevore het Pieter en Elsa die motor so gou skoongemaak nie. Toe hulle boonop ‘n paar minute laat by die skool aankom, was dit vir hulle bitter moeilik om in die saal in te stap terwyl die ander kinders reeds hulle plekke ingeneem het.

Die middag na skool het Pieter gevra dat sy ma  asseblief ‘n lysie moet maak van alles wat hulle voor skool moet doen. Hy het beslis iets waardevol geleer uit die ervaring. Hy het geleer dat ‘n tweede ding nie gaan gebeur voordat die eerste afgehandel is nie. Elke ouer kan sekerlik vele voorbeelde hierby voeg. Dink aan Andries wat nie die gras op die tyd, soos ooreengekom sny  nie en dan by sy vriend wil gaan swem of die tieners wat saam met hulle vriende tee en beskuit in die kombuis geniet het en vuil koppies en krummels  netso agtergelaat. Ma het toe ‘n tydskrif in die woonkamer gelees. Toe die honger tieners begin kos soek, het sy doodluiters gesê sy kan nie kos maak nie, want die kombuis is omgekrap. Om so op te tree kos moed.

Volgende keer gesels ons verder oor dissipline waaruit kinders iets leer.

Gedurende ‘n POSPAR kursus is daar voortdurende interaksie binne groepsverband wat uit die aard van die saak nie moontlik is as ‘n mens net ‘n inset lees nie.  Ek vertrou dat die wenke op die blog sal help , maar vind by Communitas uit wat die moontlikheid is om ‘n kursus op u tuisdorp te reël. Moederkerk op Stellenbosch bied vanaf 19 en 26 Februarie 2009  en 12,19, en 26 Maart (19:00 – 21.00) hul eerste kursus vir die jaar aan.