{ARGIEF}

Goeie verhoudings is ‘n voorvereiste vir die oordra van waardes, maar goeie kommunikasie is op sy beurt ‘n voorvereiste vir ‘n goeie verhouding. Goeie kommunikasie begin, anders as wat ons soms dink, nie by praat nie, maar by luister. As ons met ons lyf, oë, ore, hart en verstand luister na wat ons kinders sê, sal dit ons help om begrip te ontwikkel vir hulle gevoelens en ervarings.  As ons dit nie doen nie, is dit asof ons  ons vasloop teen ‘n hek wat gesluit is tussen ons en ons kind. Deur empaties te luister maak ons die hek na goeie kommunikasie oop. Hierdie stap, naamlik luister, kan nooit oorgeslaan word as ons met ons kinders wil kommunikeer nie. ‘n Mens kan tog nie bo-oor ‘n geslote hek by mekaar uitkom nie.

As ons met volle aandag na kinders luister terwyl ons onsself in hulle skoene probeer plaas, dra ons twee boodskappe aan hulle oor: “Ek gee om” en “jy en wat jy sê is vir my belangrik”. Eenkeer het ek ‘n onderhoud gevoer met ‘n seuntjie wat vir gedragsprobleme en swak skolastiese vordering verwys is. Anders as wat ek verwag het, het hy vir veertig minute lank ‘n intelligente gesprek gevoer. Sy ma, wat stilletjies by die deur afgeluister het (dit was die enigste keer dat ek so iets ervaar het!), het verstom gesê dat hy die middag meer gepraat het as wat hy die afgelope ses maande met haar gepraat het. Die verskil was dat ek blaamloos geluister het terwyl sy welmenend ‘n oplossing aan die hand gedoen of gekritiseer het sodra hy sy mond oopgemaak het. Sy het nooit enduit geluister nie. Kinders wil nie noodwendig hê ons moet hulle probleme oplos nie. Hulle wil hê dat ons met begrip na hulle luister. Dalk het julle ook al ervaar  hoe ‘n gefrustreerde kind uitroep as jy praat voordat hy/sy  klaar gepraat of verduidelik het nie: “Ma/ Pa jy hoor nie wat ek sê nie”. Covey sê: “Seek first to understand en then to be understood”.        (Word vervolg.)